Koekeloerder — 21 Junie 2017

Beste Redakteur en Kollega
Ek sit op my stoel en lees die daaglikse vloei van #GuptaLeaks waarvan die inligting net so omvangryk en absurd is as dié van Wikileaks.
Hoe het dit gebeur dat ‘n Guptaan (aanhanger/goedgesinde van ‘n spesifieke familie) in verskeie van die sleutelposte in staatsondersteunde organisasies na bewering aangestel is? “Appointed or sacked in Saxonworld.” In daardie Guptaanse staat waar ons uitgevind het dat daar darem wel een sjebeen bedryf word waar mens jou guptarsis waarin jy jou bevind (as inligting lek) kan wegdrink. Soos The Drunkard Song se woorde: There Is A Tavern In The Town, in the town …
Wat The Drunkard Song (jare gelede puik gesing deur Rudy Vallée) merkwaardig maak is dat dié Britse volksliedjie se oorspronklike weergawe (waarvan die refrein aangepas is) eers die Trinity Universiteit in Wallis se amptelike universiteitslied was.
Dat daar daagliks al hoe meer mense uit verskillende sfere gutturale klanke maak oor guptaKaping is dit verstaanbaar, want ons leer uit The Drunkard Song:
And remember that the best of friends
Must part, must part.
Mevrou, as die uittel begin moet ons onthou daar is ‘n rympie met die rare speelreël dat die een wat laaste UIT is, is AAN:
Olka bolka riebietjiestolka
Olka bolka knor
Errie tjerrie tjiekerie tjerrie
Errie tjerrie tjor.
En danksy die #GuptaLeaks weet ek ook nou dat Bell Pottinger nie Engels is vir iemand wat ‘n klok hoor, maar nie weet waar die bel hang nie.
(Bronne geraadpleeg: kinderwerf.co.za & en.wikipedia.org.)
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.