Koekeloerder — 10 Feb 2017

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en herkou aan ‘n vraagstuk oor die interpretasie van skoonsuster en swaer. Iemand wat my ondersoekende vermoë vertrou het versoek dat ek dieper op hierdie sakie ingaan.
Volgens ouer mense is swaer die broer van jou man/vrou; man van jou suster en skoonpa van jou kind. En skoonsuster is die suster van jou man/vrou, vrou van jou broer en skoonma van jou kind. Néé, nie so wyd nie, sê die jonger mense, as ‘n man en ‘n vrou trou is die twee ouerpare (van Tokai tot Doebai) niks van mekaar nie.
Met dié dat menige jongmens hulle oral in die groot metropole in die wêreld gaan vestig, het die jonger geslag se redenasie dalk meriete. As jy van skaaptjops hou, wie wil dan ‘n skoonsuster en swaer hê wat in ‘n ander kontinent bly en aan hondevleis smul?
En as skoonma dink dat skoondogter nie baie skoon is nie? En as skoondogter dink skoonma is sommer net bo blink?
Ja, ou swaer! Die HAT sê ons aangetroude familie is die skoonfamilie. Ons hele boksemdaais. Die hele kaboedel. Of jy ons nou wil hê of nie.
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.