Koekeloerder – 10 Junie 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en voel soos ‘n bogsnuiter. Dis Dinsdag en ek dink aan my tannie Bettie Nagel wat Donderdag (9 Junie) 103 jaar oud word.
In die jaar van haar geboorte in 1913 het die Russiese koningshuis die 300ste jaar van Romanovs op die troon gevier. In 1917 is hul heerskappy tot ‘n val gebring.
In dieselfde jaar in China word Yuan Shikai militêremagleier na sy teenstander Song Jiaoren tereggestel is. Ek moet erken ek het nog nooit van Shikai of Jiaoren gehoor nie, maar weet baie goed wie tannie Bettie is. Ek het ook nog nooit gehoor van die Britse stoomskip, die Calvados, wat in die See van Marmara verdwyn het met 200 mense aan boord nie. See van Marmare? Ook hierdie inligting het ek te danke aan my speurwerk op Wikipedia.
Ek lees dat die dag voor tannie Bettie se geboorte is 10 000 duiwe losgelaat by die Deutschesstadion in Berlin met ‘n 60 000 skare wat toekyk. Dié is gedoen as voorspel tot die somer Olimpiese Spele van 1916 maar die baie gevlerktes kon nie keer dat daardie spele as gevolg van Wêreldoorlog I afgelas is nie!
Ek stop om te lees oor wil-nie-weet-dinge wat in 1913 gebeur het, want dit lyk vir my of die belangrikste ding binne my verwysingsraamwerk wat gebeur het, tannie Bettie se geboorte is. Ek sien in my geestesoog haar skottelgoed onder lopende water afspoel, kombuisvloer was, koffie maak … Altyd bedrywig en ‘n meester in kuier en werk gelyktydig. ‘n Mens met gesonde humorsin.
Mevrou, ek ken nie vir tannie Bettie al 103 jaar lank nie, want ek is nog ‘n kuiken wat nie geweet het dat ‘n ene Harry Brearley van Sheffield vlekvrye staal in 1913 uitgevind het nie.
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.