Koekeloerder — 10 Maart 2017

Beste Redakteur en Kollega,
Ek sit op my stoel toe boomslimboetie Gert Gif by die koerant instap. Die drie Du Plessis’s-sibbe (ja, dit is die regte meervoud, Pharos, Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, gedruk en gebind deur Mills Litho se reël 13.27) begin gesels oor boomidentifikasie met ‘n nadraai wat my laat glo aan ‘n kollektiewe denkwyse bo ons eie begrip.
Laat ek voor begin. Mevrou Redakteur, onthou jy die kere toe ek versoek het dat jy iemand kontak wat vir ons inligting kan gee oor die moses-se-kierieplant wat blykbaar net in Limpopo voorkom? Terwyl broer, sussie Wells en ek gesels vra ek terloops of hy dié plant ken wat blykbaar net in Lephalale voorkom. Hy ken dit nie, seg hy en versoek ek moet die geleerde naam vir hom opsoek. Hy is skaars weg toe kry ek tinospora fragosa ook bekend as moses-se-kierdie, wonderplant of wonderstok.
Opgewonde bel ek en broer sê toevallig staan Vonnie Maree van Tak Manketti langs hom. Ek moet die naam gee dat albei kan hoor. ‘n Minuut of wat is broer terug by my en sê hulle het Saterdag een op ‘n uitstappie gesien en hy het net die naam “wonderstok” geken.
Sus Ria kom kyk en sê maggies, daar is ‘n pragtige een waar die redakteur bly en sy het ‘n foto ‘n paar jaar gelede daarvan geneem.
Mevrou, soveel toeval, maar dat ‘n moses-se-kierie byna op jou voorstoep is, is verstommend!
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.