Koekeloerder – 11 March 2016

Beste redakteur en kollega,
Ek sit en dink aan ‘n televisienuusberig die afgelope naweek oor werkers van die Johannesburgse Dieretuin wat staak en dat die publiek ingespring het om te help om diere kos te gee.
Daar is sekere beginsels wat ek nie verstaan nie. ‘n Dieretuinstaking benadeel immers diere en nie mense nie!
Ek verstaan ook nie baie van Amerika se verkiesingsisteem nie, tog volg ek die verwikkelinge daar.
Ek kan ook nie Europa se migrantekwessie kleinkry nie, want die probleem word net al groter.
Die reuse-pampoen van 506 kg wat Shirley Olivier gekweek het is blykbaar nie lekker genoeg om te eet nie, maar sy kan ten minste die nuwe Suid-Afrikaanse rekord agter haar naam skryf en sy benut dit deur die pampoen waarskynlik vir haar Angusstoetbeeste te voer.
Ek maak ook nie kop of stert uit van die nuwe Vodacom Superrugby se Afrika 1, Afrika 2, Australiese en Nieu-Seelandse groeperinge nie. Is Argentinië nou tegnies deel van die Afrikakontinent? En wie is die Sonwolwe?
Gelukkig was dinge in my kinderjare ongekompliseerd. By Laerskool Ellisras was die twee atletiekspanne die Maroelas en die Maroepies. Makliker kan dit nie – die kinders met vanne van A – L was Maroepies en dié met vanne van M – Z was Maroelas. Eenkeer ‘n Maroepie altyd ‘n Maroepie het ek nie net met alles wat ek werd is vir die “D”-vanne gehardloop nie, maar vir die hele een helfte van die alfabet.
Mevrou, ‘n grap is ‘n grap, maar wat moet die diere in die dieretuin van die mensdom dink as ons hulle in hokke aanhou en dan begin ons staak?

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.