Koekeloerder 12 Feb 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel wat strategies geplaas is en kyk na julle ander. Moet eerlik sê, by julle sien ek net ordelikheid raak.
Soos altyd is my tafel deurmekaar. Wanordelik, chaoties, so asof ‘n warrelwind alles holderstebolder konfoes het. ‘n Nagmerrie-sirkus op vier bene.
Ek kan nie onthou wanneer en hoekom ek ‘n fobie ontwikkel het dat netheid by my lessenaar groot moeilikheid meebring nie. As ek snipper, opskeur, weggooi, regpak, wegpak begin my ellende die volgende dag.
Wat ek gister as weggooigoed gesien het, soek ek vandag. Wat ek weggebêre het, kry ek nie. My opruimbrein en my orde in die wanordebrein dink nie dieselfde nie. Néé, ek dink nie hulle is eers bloedverwant nie. Hulle kan nie dieselfde ge-DNA wees nie, want die een kan goed konsentreer en koershou dat sien en hoor vergaan en die ander een is so aandagafleibaar soos ‘n langbeensprinkaan wat hop en self nie weet in watter rigting daar elke keer gespring gaan word en wat die landingsplek gaan wees nie.
Mevrou, soek en soek en soek jy ook soms soos ek na goed wat jy gister mee weggedoen het?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.