Koekeloerder — 15 Julie 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en wonder hoekom die Spanjaarde soveel verering vir ‘n matador het, want ek kan nie die satisfaksie insien wat stiergevegte bied deur ‘n bul te tart nie.
Ek verstaan ook nie as mense saam met stormende briesende bulle in smal straatjies hardloop wetende dat hulle die noodlot tart.
Die bulwedloop is veral in Pamplona gewild en word elke jaar tussen 6 en 14 Julie gehou, ook in ander Spaanse dorpe en in lande soos Portugal en Mexiko.
Moet my ook nie vra om te kies of ek ‘n Cowboy of ‘n Crook wil wees nie! Ek wil nie Rodeo nie en ek wil ook nie vlug nie. Dan kies ek eerder om ‘n flou aanhanger van die Bulls te wees al het hulle die byna onmoontlike reggekry om teen die Argentynse span te verloor.
Ek lees by www.wonderlist.com wat die tien gevaarlikste sportsoorte is. Om op ‘n bul te ry is die vyfde gevaarlikste en ‘cheerleading’ is in die sesde plek. Ek het nie eers geweet die hoogskoppoppies beoefen ‘n sportsoort nie. Daar word blykbaar meer as 20 000 beserings per jaar aangemeld waarvan party fataal is soos rugwerwelbeserings. Dit is dus gevaarliker om met ‘n pompom te dans as om aan internasionale motorfietswedrenne deel te neem wat as die tiende gevaarlikste sportsoort geklassifiseer is. (Onderwater grotduik word as die gevaarlikste sportsoort beskou.)
Mevrou, laat ons aanhou skop en spartel teen ‘n matige tempo om ‘n besering aan diens te voorkom.
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.