Koekeloerder — 16 September 2016

Beste redakteur en kollega,
Ek sit en dink oor hoe ek dit geniet het om die afgelope naweek na die Paralimpiese Spele, veral atletiekitems, te kyk.
Ek vergaap my aan die deelnemers se deursettingsvermoë en my oë rek toe lyers van dwergisme ‘n lang spies tot wie weet waar gooi.
Die deelnemers se entoesiasme en dankbaarheid ken geen perke – ongeag. Ja, ongeag verlies van ledemate, verlamming, gesigsgestremdheid en spierverwante en ander siektetoestande.
Ek voel jammer vir diegene wat nie medaljes ontvang nie en raak byna weemoedig as ek sien hoe dankbaar, maar tranerig, goue medaljewenners na hul landsliedere luister.
Ons eie Charl du Toit was die spreekwoordelike lag met ‘n traan.
En hoe dankbaar was die gesiggestremde Hilton Langenhoven toe hy goud in die verspring losspring en trots die landsvlag kon vashou. Sy blydskap kom na sy teleurstelling toe hy gediskwalifiseer is in die 400 m omdat hy buite sy baan getrap het.
Ek lees mense se kommentaar oor die Springbokke se vertonings en wie en wat eintlik blameer moet word. Dit tref my hoeveel kenners, keurders en afrigters tydens wedstryde en toetse in hul eie sitkamers of by hul lapas sit. As spanne volgens aanhangers se aanbevelings gekies moet word sal ‘n toetsspan ‘n paar gros mansterkte wees. Meer as wat in een groot Boeing sal pas.
Mevrou, wonder jy ook, as jy na die Paralimpiese atlete kyk, wat elkeen se lewenstorie is en wat is hul resep om in die NOU te lewe?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.