Koekeloerder — 17 Junie 2016

Beste redakteur en kollega,
Ek sit op my stoel en dink aan die Koningin van Engeland se twee verjaarsdae. Die een is haar regte geboortedagherdenking op 21 April en die tweede een ‘n dag wat gekies word wanneer dit waarskynlik nie gaan reën nie.
My geboortedag val elke jaar saam met die waai van die eerste Augustuswinde. Een verjaarsdag en klaar. Daar is nie ‘n tweede viering op ‘n ander dag wat sonder langmouklere kan plaasvind nie, al het ek ook Bloubloed. Bloubulbloed – wen of verloor.
Ek lees vanoggend by die Afrikaanse Taalkommissie se Facebook-blad oor astrafobie. ‘n Irrasionele, chroniese vrees vir weerlig en donderweer. Ek moet erken dat ek baie banger is vir wind as weer.
As die wind so weemoedig huuuiiiilll dan raak ek bedroef. En as ek dink die wind het uiteindelik gaan lê dan kom die volgende vlaag wat klink soos ‘n hiëna wat in skaapduwweltjies getrap het.
As die wind boomtakke buig of dakteëls laat klap-klap kry ek die ritteltits en hou my kop vas en hoop vir die beste. Ek hou nie daarvan as die wind my hare of klere verwaai nie, want dan raak my denkwyse heeltemal deurmekaar. Draai ek teen die windwaartse kant dan swaai die wind om en so speel hy woer-woer met my.
Ek hou nie van films wat begin met donkerte en ‘n krakerige deur wat deur die wind met ‘n spookagtige tjierie-tjierie toegeslaan word nie.
Met my fobie moet ek tevrede wees dat die wind my op my enigste verjaarsdag per jaar een jaar ouer waai.
Mevrou, dink jy ek gaan êrens ‘n neongroen nommertjie soos Koningin Elizabeth te koop kry vir my verjaarsdag wat strydbaar genoeg sal wees teen weerbarstige Augustuswinde?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.