Koekeloerder – 18 Maart 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en dink hoe vinnig dinge op die sportfront kan verander.
Toe ek na die regstreekse uitsending van die FIFA kyk het ek nie ‘n idee gehad wie Gianni Infantino is nie.
Ek het intussel wel uitgevind die Sonwolwe is die Japanese span wat ook nou Superrugby speel.
Daar was al gerugte van tennisknoeiery en nou is Maria Sharapova in die sop oor ‘n verbode middel waarvoor sy positief getoets het. Nadat fietsry se goue ster Lance Armstrong se wiele afgeval het, is enigiets seker moontlik. Krieket lewer ook nou en dan nuwe knoeiery op.
Sport het so geldgedrewe geraak dat daar selfs sielkundiges is wat spesialiseer in sportsielkunde. Sport het ‘n spanningsvolle werk geraak.
Die reël dat jy eers ‘n goeie verloorder moet wees voordat jy ‘n goeie wenner kan wees, geld nie altyd meer nie. Néé, woorde soos aansien, prestige, prestasie, status, vooraanstaande en vernaamlikheid vorm die basis van menige sportsterre se monderings.
Die verskil tussen mense se openbare beeld en privaatlewe kom net op die lappe as borge begin onttrek. Dieselfde borge wat toeskouers wil oorreed dit is hul toerusting, klere en soorte eet- en drinkgoed wat die wenners laat wen. Hulle is egter die eerste om ‘n geborgde sportpersoonlikheid soos ‘n warm patat te los as ‘n skandaal ‘breek’.
Volgens ‘n BBC-berig het Lord Coe ook nog nie ‘n “clue” of Rusland opkikkervry genoeg gaan wees om aan die Olimpiese Spele in Rio te gaan deelneem nie. ‘n Besluit gaan blykbaar eers Mei geneem word.
Mevrou, hoe lyk dit vir my dat bekende sporthelde ook maar soos ons res sukkel om goed bo kwaad te kies?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.