Koekeloerder — 2 June 2017

Beste Redakteur en Kollega
Ek sit op my werkstoel en speel speurder. Ek is op die spoor van 007 en Piet Byleveld se verbintenisse met ons dorp. Veral oor Piet Byl se voetspore by Laerskool Ellisras waar ek ook ‘n leerling en koshuisbrakkie was.
Dis vir my amper ironies dat die superagent 007 en baasspeurder Byl in dieselfde week oorlede is.
Soms is die werklikheid so ‘n bisarre storie dat dit onwaarskynliker klink as fiksie. Die vrou wat vir twee weke vermis was en wie se lyk toe by haar Eskomwerkplek aan die Oos-Rand gevind is klink absurd. So ook die bewering dat die kringtelevisie juis daardie dag nie gewerk het nie. Wonder wat Die Byl en 007 daarvan sou sê. Vir my klink dit eerder soos ‘n rolprentdraaiboek.
Mevrou, ek sit soos trapsuutjies op my stoel en onthou hoe Simon Templar my as The Saint stil laat sit het voor die televisie en ek wonder of Piet Byl op dieselfde swaai as ek by Laerskool Ellisras laat waai het?

— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.