Koekeloerder – 20 Mei 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit tjoepstil op my stoel met ‘n naskok rilling oor die rioolreuk wat my vanoggend soos ‘n vuishou getref het tussen Onverwacht en Lephalaledorp. Om onaardse naarwordgeluide te maak in ‘n voertuig is nie die ideale begin vir ‘n werksdag nie.
Ek sit en wonder of ander ook sensories sukkel met dinge wat nie reg ruik, lyk, klink, voel, proe of voel nie.
Sê net fekalieë en ek verloor meer as net my balans. Neustoeknyp verhoed nie visualisering nie. Afvalstowwe. Verstop. Goor. Walglik. Genoeg om my vir die res van die dag treurig, bekwaald, kroes en totaal mankoliekerig te maak. Hierdie koptoetrek-met-‘n-komberssindroom beïnvloed my IK, my begripsvermoë en my funksionering as deel van homo sapiens.
Genoeg oor my eie tekortkominge – ons Parlement is net so ‘n deurmekaarspul en ‘n plek waar daar eintlik baie pragmaties opgetree moet word in die belang van landsburgers. Hoe haalbaar is enige parlementêre doelwitte as dinge in ‘n warboel ontaard?
En soos ek al verlede jaar geskryf het is daar vroeërjare skertsend van ‘n gemakhuisie as parlementshuisie gepraat.
Mevrou, en so tussen die rommel en die tjommel het ek geen aptyt en mag ek maar die kamer verlaat en ‘n siekeboeg opsoek?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.