Koekeloerder – 25 Maart 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit feitlik onskuldig op my stoel. Ek betaal of ontvang geen omkoopgeld. Njannies Gupela!
Voor ek agter die draad van die spinnerak kan kom is daar weer skielik kraakvars nuus en nuwe onthullings.
Mens moet deesdae aandagafleibaar en so bietjie ontoerekenbaar wees om jouself wys te maak dat jy weet wat aangaan.
Al wat ek verseker weet is dat wena tans nog die minister van finansies in die Van Rooyenhuishouding is ongeag die prys van aartappels en uitleenrentekoerse wat styg.
Vir ontspanning lees ek woordeboeke en kyk nuus. Veral sommige nasionale ‘harde’ nuus is groot pret. Praat van riele en kadriele danse en so nou en dan ook ‘n gekafoefel met strooipoppe wat skeef loop.
In die Parlement gaan dit nie beter nie. Realiteits-TV op sy beste en die akteurs is goed. Flippen goed.
‘n Storie wat vir my absurd is, is dat iemand met ‘n slenter vorendag gekom het om teen ‘n prys van R250 000 ‘n moordklag te laat verdwyn. Jô-jô!
Mevrou ek sit feitlik onskuldig en probeer my bes om te lyk of ek toerekenbaar is al verstaan ek nie hoe ‘n spinnekop ‘n rak so mooi kan span dat ander deur die dun draadjies vasgevang word.
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.