Koekeloerder – 26 Feb 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit en wonder hoe daar bepaal word wanneer iets gedoen moet word.
 Ek verwys nou spesifiek na die kennisgewing van die plaaslike munisipaliteit dat Eskom kennis gegee het dat daar kragonderbrekings beplan word vir 24 en 26 Februarie weens die inbedryfstelling van Lephalale-Wessubstasie.
Die finansiële jaareinde van vele besighede is die laaste dag van Februarie. Vir besighede wat slegs vyf werksdae per week het, laat dit mens met slegs Maandag 29 Februarie aangesien van die dinge wat gedoen moet word nie al op 25 (betaaldag vir baie besighede) afgehandel kan word nie. Om nie te praat van voorlopige belastingbedrae wat bepaal moet word nie! Sommer net so: Die as (lees krag) – waarom ‘n jaareinde wentel – is af!
Ek weet ek is tot die uiterste toe sensitief vir ‘n kragopwekker. Oorsensitief vir die tsjôôôîîêêî, tjôîîôêîîê, tjhhê, tsjôôôîîêêî. tjôîîôêîîê, tjhhê, aanhoudende geblêr teen ‘n tot-malwordens-toe frekwensie asook die brandstofdampe wat hoe later hoe sterker raak. Dit kleef boonop aan alles denkbaar en ondenkbaar – nes lak aan ‘n wolkombers. Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek verwys na daardie posbusrooi lak waarmee bokse geseël is wat per pakkie-pos versend is!
Ek lees by dspace.nwu.ac.za die regte vergelykings van ontydig is: So ontydig soos ‘n Januarie-ryp (Ladysmith, Heilbron, Theunissen) of so ontydig soos ‘n predikant/die inkomstebelasting.
Mevrou, wie dink u is in hierdie geval ontydig: die inkomstebelasting of die kragonderbreking?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.