Koekeloerder — 27 Mei 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en lees in die HAT dat ‘n behaagsieke persoon ‘n ydeltuit genoem word. Wat ‘n goeie beskrywende woord!
Daar is heelwat ander woorde wat ook ons geite akkuraat raaksê soos hoipolloi, parvenu, elite, snobs…
Om nie te praat van dié wat aan serebrale meerderwaardigheid ly nie. Ja, die wêreld het kundiges nodig in alle gebiede. Van hierdie intelligentsia (groepswoord vir intelektuele en geleerdes) is plat op die aarde nederige mense. As iemand beskik oor ‘n groot kennis in ‘n vakgebied, maar hul skuldig maak aan intellegentsiasnobisme kan hulle die wêreld vir ander baie warm maak. Persoonlik ondervind ek dat dié wat in ‘n wêreld van verhewendheid leef, ook ly aan een of ander vorm van humorminderwaardigheid.
Iemand vertel my Maandag van ‘n nuwe plaaslike gier waar vroue vir ander in die openbaar vra hoeveel geld hulle vir iets betaal het. Dinge soos die prys van ringe.
Dan raak dit ‘n besprekingspunt en word die persoon se minderwaardige smaak deur die ander bespreek wat kwansuis nie sulke parvenu idees het nie.
Ek sit en wonder wat dié selfaangestelde statusbewuste hooggeplaastes en elite sal dink oor klere soos jasse wat ek steeds dra wat reeds in die negentigs en selfs vroeër deur familielede vir my tuisgemaak is?
“Hoeveel het jy betaal?” Hallo daar! waar kom jy vandaan? Basta! dit het niks met jou te doen nie!
Van wanneer af is die etiketreël oorboord gegooi dat mens nooit vir ‘n ander vra wat hulle vir iets betaal het?
Mevrou, met ‘n matriekafskeid wat voorlê, hoeveel ydeltuite dink jy gaan die koste van rokke bespreek?
My plastiekwatergieter (met ‘n tuit) is gemaak in Hongkong en kos geld pond tien!
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.