Koekeloerder — 28 April 2017

Beste Redakteur en Kollega
Ek sit op my stoel en verknies my oor hoe sosiale mediagroepe funksioneer.  
Is dit net ek wat teleurgesteld raak as ‘n blad sy kenmerkende interessante onderwerpsgebonde inhoud stelselmatig verloor as ‘n groep groter en lomper raak?
Die enigste soort Facebook-blaaie wat ek nie ontvriend is dié met hekelpatrone. Maak nie saak wat jou taal is nie, jy verstaan die patroonillustrasies. Niemand redekawel daar oor taal, politiek of godsdiens nie. En ja, soms is daar lawwe skeppings wat ek ignoreer en by verby gly.
Wat my verstom is hoe oom Angus Buchan byvoorbeeld die onderwerp van bespreking raak op van taal- tot boekforums en die voorstanders en teenstanders se argumente niks met die prys van aartappels of woorde te doen het nie.
Dan kry ‘n mens daardie Facebook-trolle wat lid word met die doel om vinnig ander lede toe te gooi met advertensies van geldleenskemas.
Of die wat ‘n plasing wat al 9 999 999 999 (slim mense seg nege word as ‘n rieële getal beskou en is nie repeterend omdat dit aan een gelyk raak want drie derdes is ‘n volle een!) keer gedeel is, weer deel. Ek wonder hoeveel plasings trek rond op FB om jaarliks toe te slaan. Dink maar net aan die brug tussen Vaalwater en Ellisras wat elke jaar verspoel al is dit nog nooit herbou nie!
En dan is daar natuurlik diegene wat die kat van die begin aan sy blad beet het en nie die oorspronklike plasings lees nie. Hulle val in by die stertkant met kundige onkundige kommentaar wat die plasing (wat se draad al by Villiers in die Vrystaat trek) in ‘n nuwe dwaalkoers stuur.
Mevrou, voor ons koes … Wie? Wat? Waar? Wanneer? Hoekom?
Met die wysheid wat nawete bring.
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.