Koekeloerder — 29 Julie 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en lees in die Afrikaanse Woordelys & Spelreëls, Pharos, gedruk en gebind deur Mills Litho, se afdeling oor meervoude en eiename.
As een gebore Du Plessis het ek al vergeet dat meer van ons is Du Plessis’s. Ja, ons gooi vier esse! Die reël sê eiename wat op ‘n onuitgespreekte “e” of “s” eindig, kry ‘n meervoudsvorm met -‘e of -‘s.
Die Van Breda’s en Dlamini’s eindig met ‘n ‘s omdat eiename wat eindig op ‘n beklemtoonde a, i, o of u so eindig.
Ek lees reël na reël. Ek het lankal vergeet dat ek op skool hierdie ingewikkelde reëls oor voorname en vanne geleer het, want om eerlik te wees sal ek vandag hieroor ‘n toets dop, Druip. Sak. Pluk. Vasval. Onderdeur duik.
Ek sit en wonder of ek ‘n raakvat sêding sal kan uitdink oor kennis wat ek nie weet of ek dit op ‘n stadium geweet het of nie. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VIVA) bied in samewerking met verskillende instellings die opwindende sêgoedkompetisie Varsgebek vir Nuwe Afrikaans aan. Wat ‘n goeie inisiatief om nuwe woorde, vakterme en idiome wat nog nooit opgeneem is te versamel!
Mevrou, dink jy “my breingange gooi weer esse” sal die regte beskrywing wees vir data wat lê en stof vergaar – witstof?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.