Koekeloerder — 3 Maart 2017

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en wonder of iets nog met presisie gedoen word.
In 2015 word die verkeerde vrou as Mej Wêreld aangewys en onlangs is die verkeerde fliek as die Oscarwenner aangekondig. O! Oeps! Ai! Sjoe! Joe! Jô! Ai tog!
Miskien leef ons in die tyd wat tussenwerpsels (weens die toenemende oë-rek-insidente) oor die absurde van die lewe daagliks afgestof kan word. Ons noem dit ook uitroepe van verbasing.
“Toe kom die laaste perd eerste,” soos die oumense sou sê, het my nog altyd namens die een wat die flater aangejaag het laat sleg voel. Ja, ek voel sleg vir die droogmaker. Ek voel sleg vir die eerste een wat aangewys is as wenner en dan moet hoor néé daar is ‘n fout begaan. En ek voel sleg vir die een wat dan wen – wat ek glo net so sleg soos ek vir die ander twee partye voel. So tussen my en hulle bou ons ‘n slegvoel-ketting wat hulle en ek vir jare sal onthou.
Maar ek sal die waarheid skeef praat as ek nie erken dat ek eers lag nie. Ja, soos wanneer iemand ‘n stoel stukkend sit en jy eers lag voor die erns van die situasie inskop.
La-la-land mevrou, hoe gebeur dit dat die verkeerde fliek as wenfliek aangekondig word in die jaar 2017?
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.