Koekeloerder — 5 Augustus 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en lees by en.wikipedia.org van die langste plekname op aarde. By Noordeiland in Nieu-Seeland is ‘n plek met die tongknoper Maori-naam Taumatawhakatangihangakoauauotamateaturipukakapikimaungahoronukupokaiwhenuakitanatahu.
Op ‘n eiland naby Wallis is ‘n plek met die naam Llanfairpwllgwyngyllgogerychwyrndrobwllllantysiliogogogoch wat in Engels beteken “Saint Mary’s Church in a hollow of white hazel near the swirling whirlpool of the church of Saint Tysilio with a red cave”.
Amerika spog met ‘n meer in Massachusetts met die naam Chargoggagoggmanchauggagoggchaubunagungamaugg.
Maar ons staan nie terug nie en Suid-Afrika beklee die vierde plek met ‘n 44 letter plaasnaam in Noord-Wes wat geregistreer is as Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodge-skietfontein.
Uit nuuskierigheid gaan kyk ek (ook by wikipedia) na die kortste plekname en ontdek daar is 28 wat uit slegs een letter bestaan. E is byvoorbeeld die naam van ‘n berg in Japan en daar is ‘n rivier in die hooglande van Skotland waarvan die naam ook E is.
Mevrou, ja wraggies! Dis hier te kort en daar te lank en blykbaar het iemand dit jare gelede reggekry om twee buffels met een skoot morsdood te skiet by ‘n fontein.
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.