Koekeloerder – 8 April 2016

Beste redakteur en kollega
Ek sit op my stoel en dink aan die sêding dat een week in die politiek lank kan wees.
Sondag was een boulbeurt vir die Engelse bouler Ben Stokes ook lank, al het hy net vier van ses balle van die laaste beurt na die Wes-Indiese speler Carlos Brathwaite geboul. Daardie vier balle in die eindstryd van die T20 Wêreldbeker op Kolkata sal nog jare by Stokes spook, want om vier keer agtereenvolgens vir sesse gelooi te word sal enige bouler laat tjank.
Die Nederlanders het ‘n gesegde: De toekomst is een boek met zeven sloten. (en.wikiquote.org.) Ja, wraggies kan mens beaam na ‘n week se nuus wat van een uiterste na die ander is.
Die “Panama Papers,” klink na meer as net ‘n blikkie vol wurms. Dalk dromme vol.
Brasilië word deur betogings en die Zikavirus getreiter. Rio moet egter die 2016 Olimpiese Spele aanbied en met atlete en besoekers van oral kan ‘n virus wêreldwyd versprei, of hoe? ‘n Migrantespan gaan vir die eerste keer in die geskiedenis deelneem.
Een land gaan weens gerugte van opkikkers dalk nie deelneem nie en ‘n Britse dokter word tans daarvan verdink dat hy tot 150 sportslui met voorskrifte gehelp het – onder andere fietsryers, tennisspelers, boksers en atlete. Hoe nou Rio 2016?
Alle slegte nuus word ook nie net oor die lug of in koerantberigte bekendgemaak nie.
Néé, ek en goede gade is sopas vir twee sesse geslaan toe ons twee e-toll-fakture in die pos kry (met afslag as ons voor 10 Maart betaal).
Uitspraak van sake CCT 143/15 en CCT 171/15 in die Konstitusionele Hof oor die President se Nkandlahuis gaan nog lank in die nuus wees. Die uitspraak is nie net vir die EFF en die DA, wat die applikante in die saak was belangrik nie, maar vir elke landsburger.
Maar een ander Nederlandse spreekwoord wat nie sewe slotte het nie (en ook so waar soos een pasgelegde eier of vier sesse van vier balle is) is: Een klein lek doet een groot schip zinken.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.