Koekeloerder — 8 September 2017

Beste Redakteur en Kollega
Ek sit en dink hoe Loslit-, Boomplant- en Lentedag hierdie jaar ongesiens verbygegaan het. Dit is asof rioolreuke, lamlendige skewe trollies wat oral rondstaan, obskure advertensieplakkers wat klou teen grys advertensiehouers soos kougom aan ʼn gehekelde wolkombers en Augustus se stofwinde ons tjank aftrap.
Wanneer het alles so skeef begin raak? Pale staan skeef, aanduidingsborde en padtekens staan skuins en alles wat beplak is loer skeel-skeel vir ons.
Boomplant en lente is tekens van hoop, maar skielik lyk dit of 2017 die jaar is waarin Lephalale asvaal geskrik is. Beklemd oor al die rommel. Bekaf en skaam oor wat besoekers van ons dorp dink. Neerslagtig omdat alles net erger en erger raak en uitmekaar val. Hand in die hare oor Lephalale vandag een van die mees mankoliekerigste plekke is wat van binne nie meer gehelp kan of wil word nie.
Ek sit en dink aan die Kaap wat met al die seewater nie erge waterskaarste kan voorkom nie. Al het hulle nou van die strengste waterbeperkings ooit ingestel, bly hul omgewing en strande egter skoon.
Mevrou, ek sit op hierdie Grysdag en wens dat daar eerder ʼn laventelwaterreuk as ʼn rioolreuk oor die dorp hang. Maar vir eers is dit wensdenkery, want ons sal eers uit ons emosionele resessie moet breek en as ons nie oppas nie, word dit ‘n aanhoudende verwoestende emosionele groepdepressie.

—Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.