Langste woord in AWS – Koekeloer ‘007’

Mogol Pos se Koekeloerder het op 17 Januarie vanjaar in HAAR EIE BOEKRAK ‘n boek gevind wat die groot raaisel omtrent “Bosveldstollingskompleks” oplos. Dié boek se naam is Die Beknopte Geïllustreerde Ensiklopedie van Suid-Afrika, Peter Schirmer, uitgegee deur Central News Agency (CNA), 1981. Sy het R15.95 betaal vir dié boek.
Op bladsy 44 word dit só verduidelik: “BOSVELDSTOLLINGSKOMPLEKS. Die grootste deel daarvan bestaan uit die sg. Rustenburgse gelaagde suite. Hierdie unieke suite basiese en granitiese vulkaniese rotse in Transvaal is meer as 2 000 miljoen jaar oud en word beskou as een van die geologiese wonders van die wêreld. Dit beslaan ‘n gebied van 500 km van noord na suid. Dit bevat waarskynlik die grootste platinareserwes ter wêreld, sowel as groot afsettings van nikkel en chroom.”
Koekeloerder se brief in Mogol Pos se uitgawe van 9 September 2016 lees as volg:
Beste redakteur en kollega,
 Ek lees by af.wikipedia, die vrye ensiklopedie (Afrikaans) dat die langste woord wat in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) voorkom is Bosveldstollingskompleks-navorsingseenheid (41 letters). Hoe lekker kry ek omdat Bosveld deel van dié woord uitmaak!
 Lesers kan by die Vuisboek van Afrikaanse Wikipedia gaan lees hoeveel artikels en oor watter onderwerpe het die span wat by die uitbreiding van Afrikaanse Wikipedia betrokke is al geplaas. Op 6 Mei het Hugo Barnard geskryf dat daar reeds meer as 40 000 Afrikaanse artikels geplaas is en dat daar ongeveer 400 per maand bygevoeg word.
 Ons kan reeds in Afrikaans lees van Middeleeuse kookkuns tot die duur spesery saffraan by af.wikipedia.
 En so tussen die soekenjins wat ek gebruik om na te lees oor die goed en mallighede in die wêreld bly ek egter ‘n groot voorstander van ‘n gedrukte boek in die hand. Niks ruik vir my so lekker soos ‘n spinternuwe boek nie.
 Ek het in my AWS (Pharos, 10de uitgawe) gaan kyk en Bosveldstollingskompleks-navorsingseenheid is wraggies daarin.
 Toe ek die HAT 6 nadersleep om op te kyk wat beteken die woord kom ek agter dit verskyn nie daarin nie.
 Mevrou, wat dink jy doen die Bosveldstol-lingskompleksnavorsingseenheid?
— Elsa
(Terloops, kan iemand dalk vir ons sê wat suite in dié konteks beteken? Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.