Letter from the Editor — 12 August 2016

Langnaweke en vakansiedae. Dit is baie lekker om ‘n pasella dag te kry en bietjie later te slaap, maar ek wonder darem net oor al die “af” dae. My oudste het Woensdag gestem in Potch, hulle het Donderdag se klasse geskuif en Vrydag was daar in elk geval nie klas nie, as gevolg van “intervarsity”. En uit die aard van die saak het hulle toe ook Maandag af omdat Dinsdag Vrouedag is.
My jongste, wat binnekort rekord-eksamen skryf, het met ander woorde verlede week een dag se skool gemis en hierdie week twee dae. Ek wonder maar net of ons nie verval het in ‘n baie gemaklike gewoonte om sommer net die dag tussen ‘n naweek en ‘n vakansiedag ook “af” te neem nie.
Dit is buitendien blykbaar net ek, die moeder, wat die erns van studies en werk besef. Die einste kind wat binnekort rekordeksamen skryf het Pokémon Go ontdek. Liewe aarde, ek wonder wie dink hierdie speletjies uit wat kinders (en volwassenes) se lewens heeltemal oorneem? Ek word elke middag gevra om by dié kerk of daai skool in te draai sodat hy gou ‘n Pokémon kan vang. As ek weier om oral in te draai en af te draai word ek ingelig dat ek regtig nie ‘n “fun” ma is nie. En ek het nogal gedink ek is ‘n baie “fun” ma…
Ek hoor boonop die naweek van mense wat spesiaal van Pretoria af Potch toe gery het om Pokémons te gaan vang. Dit voel vir my die hele wêreld is besig om mal te word. Miskien is dit ‘n heerlike ontvlugting uit ‘n gejaagde lewe. Ek sal nie weet nie.
Daar is die komende naweek ‘n hele paar opwindende geleenthede in die dorp.
Die Mogol/Exxaro marathon begin vroeg Saterdagoggend en Saterdagaand word die heel eerste Bosveld Jazz-fees by Mogolklub gehou. Ek hoop dit is die begin van groot dinge in Lephalale. Dinge wat ons siele voed. Kultuurdinge, waaraan daar so ‘n groot behoefte is. Hopelik is dié fees die begin van ander positiewe inisiatiewe.
Ek hoop alle Evas het ‘n baie spesiale Vrouedag geniet saam met geliefdes.
Tot volgende week.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.