Mogol Pos is finalis

LEPHALALE — Mogol Pos het onlangs die algemene jaarvergadering en toekenningsfunksie van Capro in Randburg bygewoon.
Capro (Pty) Ltd, waarvan Mogol Pos ‘n aandeelhouer is, is die mediaverteenwoordiger vir meer as 100 onafhanklike gemeenskapskoerante regoor Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Swaziland en Namibië en werf advertensies van alle groot maatskappye soos PicknPay, Autopedigree, banke, Massstores (Game), Checkers, ens.
Capro deel jaarliks twee toekennings uit naamlik die Eagle- sowel as die Hazel Swanepoeltrofee. Mogol Pos was in 2013 die wenner van die Eagle-trofee en behaal die tweede plek in in 2015, ‘n uitstekende prestasie vir ‘n koerant uit die verre bosveld.
Mogol Pos was vanjaar nie die wenner nie, maar wel ‘n finalis vir die Hazel Swanepoeltrofee. Beide hierdie toekennings word gebaseer op goeie kommunikasie, spertye wat gehaal word en ‘n kwaliteit en bemarkbare koerant. Mogol Pos is bewys as ‘n koerant wat die toets van die tyd deurstaan het wat dit vir Capro maklik maak om adverteerders vir hul bemarking te werf.
Mogol Pos wil adverteerders gerusstel dat, alhoewel ons besig is om hard aan die digitale aspek van bemarking vir adverteerders te werk, die koerant nog steeds verkoop en gelees word en dat adverteerders hul bemarking nog steeds via Mogol Pos kan doen. Almal kan doen met meer besigheid, laat ons toe om julle te help. Ons is getoets, beproef en bewys as ‘n media platform wat vertrou kan word met gehalte inhoud sonder sensasiebejag en vals nuus soos wat deesdae al hoe meer in sommige media voorkom.
Verder is Mogol Pos een van min onafhanklike gemeenskapskoerante wat gesertifiseer word deur die Audit Bureau van Sirkulasie van Suid-Afrika (ABC). Dit is die organisasie wat publikasies monitor om te kyk of hulle huis in orde is betreffende drukoplaag, sirkulasie en verspreiding. Sover het ons dit telkens met vlieënde vaandels geslaag.
Dit bly ons strewe om die gemeenskap van Lephalale en omgewing te dien. Lees jy vandag die Mogol Pos? Bedank en ondersteun die adverteerders wat ons week na week moontlik maak om ‘n koerant op straat te kry. Ons het groot waardering vir die lesers en ook die mense wat vir ons nuus verskaf en adverteerders wat ons help om week na week met ‘n lied in die hart, hard te werk om die gemeenskap te dien.
Hiermee dus ons opregte dank aan ons lesers en adverteerders.
— Ria Wells

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.