Mogol Pos is mondig

LEPHALALE — Mogol Pos word vanjaar op 16 Februarie mondig. 21 jaar van nuus insamel en artikels skryf. Advertensies is verkoop, funksies is bygewoon – sommiges tot laatnag, daar is agter veldbrande aangejaag, stakersbyeenkomste en ongelukstonele is besoek. Ons was saam met skoolkinders trots op prestasies op kultuur, sport en akademiese gebied.  
Saam met baie gelag oor die soet van die lewe, maar ook saam gehuil met sommiges oor die seer daarvan.
In 21 jaar het daar baie in Lephalale gebeur. Die dorp het uitgebrei en daarmee saam het nuwe skole, kerke, geboue en besighede die lig gesien. Nuwe gesigte is oral.
Ongelukkig het daar ook baie besighede ophou bestaan. Die redes en invloede is debatteerbaar. Feit is: baie dinge het verander.
Mogol Pos is trots om te sê dat na al hierdie tyd ons nog steeds ‘n betroubare bron van inligting is. Vir Mogol Pos bestaan daar nie iets soos “alternatiewe feite” nie. Die waarheid word te alle tye in beriggewing nagestreef. Volgens ‘n artikel deur Chris Moerdyk op The Media Online, ‘n digitale tydskrif, blyk dit dat daar al hoe meer mense en nuusbronne doelbewus van “fake news” gebruik maak ter wille van winsbejag.
Chris sê dat daar nou meer as ooit ‘n ongelooflike geleentheid is om lesers, kykers en luisteraars oor die breë media terug te lok met integriteit en goeie joernalistiek aangesien verbruikers nou meer as ooit MOET terugval op vertroue in hul nuusbronne. Soos altyd streef Mogol Pos daarna om hulself te onderskei van die digitale massamedia en swak advertensieboekies wat deur die jare kom en gaan. Daar is selfs opportuniste wat beweer hulle is in diens van Mogol Pos wanneer hulle bemarking vir hul boekies doen. Maar ongelukkig sal die misleidende, ongeverifieerde en swak beriggewing altyd met ons wees omdat die ontvanklike en goedgelowige leser daarvan hou – veral waar besighede beswadder word op sosiale media. Ongegrond. Ongevraagd. Sonder finesse.
Mogol Pos besef die waarde van digitale media en is besig om dit aan te spreek en lesers en adverteerders kan uitsien na ‘n opwindende nuwe fase in Mogol Pos se bestaan waar die gedrukte media soos dit tans daar uitsien en die digitale media behoorlik gaan hande vat. Dit is net te gou om die aap uit die mou te laat, maar ons hou julle op hoogte.
Baie dankie aan al die adverteerders vir wie ons iets beteken en op hul beurt bydra tot die daarstel van die koerant.
En dan natuurlik ons getroue lesers. Julle wat somtyds kritiek lewer, maar ons ook gereeld bedank vir dit wat ons vir die gemeenskap beteken, hetsy dit vir die SAVF, DBV, kerke, skole of individue is. Sonder julle almal is daar nie ‘n koerant nie! En wat is ‘n dorp per slot van rekening nou sonder ‘n goeie koerant? Baie, baie dankie dat julle ons deur 21 jaar bygestaan en gehelp het met 1 029 koerante en derduisende bladsye oor die jare, sonder om een week oor te slaan, behalwe wanneer Mogol Pos oor die feesseisoen vir drie weke sluit vir ‘n welverdiende ruskans.
Mag ons vir die volgende 21 jaar nog steeds sy aan sy werk en die wonderlike gemeenskap en omgewing dien!
— Ria Wells

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.