Onderwys – gister en vandag

Leoni Kruger
Met die oog op die hedendaagse onderwysstelsel vandag en hoe goeie onderwysers wat al lank in die onderwys staan dit eerstehands beleef, het Mogol Pos gesels met een van die goeie onderwysers wat steeds probeer om dit waarvoor sy ‘n passie het, behoorlik uit te voer. Ten spyte van al die “politiek” daaragter.
Ten spyte van moeilike, onbetrokke ouers. Ten spyte van kinders wat die kitaar slaan.
 Mogol Pos: Wat was die rol van ‘n onderwyser vroeër jare en wat is die prentjie vandag?
 Onderwyser: Jare gelede was die onderwyser (of die ‘Meester’) een van die mees gerespekteerde beroepe in die wêreld (net so onderkant die predikant en die dokter).
In vandag se lewe is onderwys maar net nog ‘n beroep met probleme so algemeen soos wat dit in enige beroep voorkom. Waar daar in die ‘ou dae’ uit blote respek nooit ‘n slegte woord gesê is oor ‘n onderwyser nie, loop die onnies deesdae maar net so lekker deur soos enige ander werknemer. En sekerlik met reg, want ongelukkig – soos maar in elke beroepsveld – kry mens maar die ‘goeie’ onnies en die ‘slegte’ onnies.
Dit bring mee dat skole en onderwysers byna met oorgawe bespreek word in ouerhuise en in die gemeenskap, want ons is maar almal dadelik op die verdediging as dit kom by ons kinders. Deesdae, dus, gebeur dit al hoe meer dat ouers die skool slegsê ten aanhore (of selfs teenoor!) die kinders wat dan vir dieselfde skool respek moet hê. Hoe dan gemaak? Hoe sal die kind nou respek hê vir – en luister na – die onderwyser wat gisteraand die onderwerp van ‘n skinderstorie was in die huis? Hoe maklik om, as die kind lyf wegsteek of pligte versuim, die skinderstorie oor die betrokke onderwyser op te haal. Dan is dit natuurlik bloot ‘n geval van ‘nes ek gedink het!’ In die lig van die “gerugte” word die kind geglo en die onnie…verder beskinder. Ongelukkig bereik gemeenskappe hierdeur net die teenoorgestelde van die opvoedingstaak: kinders word nie geleer om hulle meerderes te respekteer nie en ongelukkig beskou kinders dan nie langer die vak of die ganse skool, as iets om ernstig op te neem nie.
Ek maak hierdie uitlatings omdat dit presies is wat ek in my 26 jaar in die onderwys beleef het. Ek sê gereeld die woorde: ‘Dit word elke jaar erger!’ want dit is presies wat ek waarneem.
 Mogol Pos: Hoe het die leerder se rol in die skool verander en wat doen ouers om hul kinders “op te hef”?
 Onderwyser: Toe ek self op skool was, was ons ‘bang’ vir die onnies. ‘Bang’ moet in hierdie geval gelees word as ‘respekvol’. Jy het nie teruggepraat met ‘n onnie nie, jy het nie die onnie verkwalik as jý nie jóu werk gedoen het nie, jy het nie ‘n slegte woord van ‘n onnie in die huis gepraat nie en as jou punte vrot was, het jou ouers die fout eerste by jou gaan soek. Vandag het kinders regte.
(Onnies blykbaar nie!) As hulle swak vaar, word die fout voor die onderwyser se deur gelê. As hulle dissiplinêre probleme toon, word die onnies of die ganse skool aangeval want, soos die spreekwoord lui: ‘Aanval is die beste verdediging.’ Vroeërjare sou ‘n kind maar sy pak moes vat. Deesdae word al meer ondervind dat, as ‘n kind oortree, dit op een of ander wyse die skool se skuld is. Selfs erge-oortreders – leerders wat betrokke is by dwelms, wat steel, wat oneerlik is, wat die skooleiendom vandaliseer. Ouers hoef net hulle lot te bekla by die department dat ‘n kind van onderrig ontneem word en die skool word geforseer om die geskorsde leerder terug te neem.
Stel jouself die smalende uitdrukking op so ‘n kind se gesig voor wanneer die skool maar gedweë, ten spyte van verset deur ander leerders of ouers, ten spyte van bewyse, ten spyte van tugstappe, so ‘n kind moet terugvat.
Ek weet ek veralgemeen nou baie. Natuurlik is daar nog ouers (en onnies!) wie se koppe reg aangeskroef is! Natuurlik is daar ook PRAGTIGE, welopgevoede en respekvolle kinders in ons skole.
Dit is natuurlik nie net skole wat verander het nie.
 Mogol Pos: Die onderwysdepartement plaas druk op skole en ouers en die gemeenskap plaas ongekende druk op kinders. Ervaar jy dit ook so?
 Onderwyser: Ek besef dat dit nie net skole is wat verander het nie. Die lewe, met al die fokus op prestasie sodat ‘n kind ‘n kans kan staan om ‘n behoorlike beroep te kan beoefen, werk ook op almal se senuwees. Boonop is daar BAIE druk op die onderwysdepartement om te wys wat in hulle steek. Watter party ookal aan bewind is, is onder druk om te bewys dat hulle wel bevoeg is om die land te regeer en daarom mag geen department sleg lyk nie. Vandaar die druk van die onderwysdepartement dat skole sal presteer.
 Mogol Pos: Het onderwysers nog tyd om die kurrikulum behoorlik deur te werk en hersiening te doen en genoeg tyd met leerders te spandeer? Ek hoor ook dat kinders deesdae sommer “deurgesit word, ongeag of hulle punte ‘n slaagsyfer projekteer. Ek weet spesifiek van een geval waar die kind regtig nie KON slaag nie en toe ek my oë uitvee toe is hy deur na die volgende graad. Ek hoor ook dat daar by matriekleerders wat goed presteer en onderskeidings kry, punte “weggeneem” word en “bygevoeg” word by druipelinge. Kan dit waar wees? Ek hoor gereeld dat daar “af” periodes is. Wat beteken dit regtig?
 Onderwyser: Die hele proses is grootendeels ‘n bose kringloop: nie alle skole presteer na wense nie. Skole moet dus gedwing word om te presteer en prestasie word gemonitor. Hiervoor moet onderwysers kwartaalliks en in sommige gevalle selfs maandeliks of weekliks gaan ‘plies eksplein’ op die rooi tapyt: waarom druip daar leerders in julle skool? Dit mag nie gebeur nie! ALLE leerders MOET deurkom. Die gevolg? Sou ‘n leerder druip mag sy ouers “appelleer” en die skool het geen ander keuse as om die leerder te laat progreseer nie. Ouers is tog te bly hieroor, want nou hoef hulle nie meer wakker te lê oor ‘n kind wat druip nie. Kinders sê ook, baie selfondaan, dat hulle nie hoef te leer nie, want hulle word tog deurgesit.
Die ongeluk is egter (en dit is volgens my heeltemal logies!) dat die kind na ‘n volgende graad oorgeplaas word SONDER dat hy/sy die vermoëns bemeester het om daardie graad te kan slaag. Dit is skokkend om te dink dat daar kinders in matriek is wat nog nooit een jaar geslaag het nie. Die groot ongeluk kom dan egter aan die einde van matriek, wanneer niemand jou gaan ‘deursit’ soos vantevore nie. As jy dán druip, dan druip jy. Die ouers is maar min gesaai wat daarop aandring dat ‘n kind ‘n graad herhaal wat hy nie deurgekom het nie.
Boonop omdat die department (veral provinsiale departemente soos Limpopo) se senuwees gedaan is oor die slaagsyfer, moet die onderwysers ‘window dress’ dat die biesies bewe (jou lêer MOET so en so lyk, met so en so ‘n datum. As die datum met een dag verskil, word jou lêer afgekeur. GEEN refleksie op hoe jy jou werk doen nie, maar toemaar…). Elke nou en dan moet ‘n verslag in of moet die onderwysers ‘n moderering bywoon. Dit gebeur natuurlik in skooltyd! Vroeer jare het ‘inspekteurs’ die skole besoek om te verifieer of onderwysers hulle werk doen of nie. Hulle is nie uit klasse geneem om ‘opgecheck’ te word nie. En dan praat ek nie eers van die kursusse wat onderwysers moet bywoon nie! Dit is verstommend hoeveel onderwysers opgelei moet word – selfs NADAT hulle ‘n onderwyskwalifikasie behaal het! En in my ondervinding is hierdie kursusse meestal ‘n mors van KLAStyd. Dinge wat ons al vir jaaaare weet, en vir jaaaare toepas, word voorgehou asof mens dit nie alreeds moes geweet het toe jy begin skoolhou het nie. Ek praat nie van nuwe vakinhoud nie, maar van opleiding oor hoe om skool te hou!
Ek sê baiekeer: ek is baie lief vir skoolhou, maar die onderwys maak my klaar! En nee, skoolhou en onderwys is NIE dieselfde ding nie. As ek heeldag in my klas kan wees en die inhoud van die sillabus aan my leerders kan oordra sal ek nog vir jare skoolhou. Maar die voortdurende onderbrekings vir hierdie lêer, daardie verslag, hierdie kursus of vergadering sal maak dat ek my bondeltjie besittings in ‘n sakdoek toedraai en die pad vat…

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.