Redakteurbrief

Die naweek van 18 Augustus was ‘n bloedige naweek in Suid-Afrika. In Limpopo het die wrede moord op Piet en Tilla van Zyl van Roedtan baie aandag getrek, veral vanweë sy betrokkenheid by renosters.  
Volgens inligting het hy voortdurend ‘n stryd gehad om renosterstopers van sy plaas af te hou.
Dit bring my by ‘n dankie aan almal wat betrokke was by die arrestasie van twee renosterstropers in die Cumberlandomgewing. Daar is goeie rede om te glo dat hulle ook by verskeie ander voorvalle betrokke was. En om spore vir 60 kilometer te volg is nie grappies nie.
Behalwe die Van Zyls, is Anton Smuts van Kinross in Mpumalanga Saterdag tydens ‘n aanval vermoor en James Munroe van Baberton is Sondag deur twee aanvallers oorval. Hy het die aanval oorleef.
In Vaalwater is verskeie mense aangerand en een vrou is verkrag. Lees meer hieroor op die voorblad.
Volgens statistieke is 2017 dalk die bloedigste jaar ooit in terme van plaasaanvalle en –moorde.
Francois van Coke sing “die wêreld is mal
kompleks en kwesbaar; mense wat oor mekaar val..”.
Ek wil eintlik net sê “die wêreld is mal en dis al”.
Nog opwindende vordering in die riool-sage is dat die Groen Skerpioene Lephalale verlede week binnegevaar het. Met bottels vir monsters, geseëlde sakke, saaknommers, die hele lot.  Hulle moes natuurlik baie klandestien wees ten opsigte van die ondersoek en het nie veel met my gekommunikeer nie, maar hulle liggaamstaal het dit duidelik gemaak dat hulle geskok was oor wat hulle gesien en geruik het. Om op jou nugter maag by ‘n “vleiland” van rioolwater te staan is nie grappies nie.
Mag dit lei tot ‘n oplossing.
Net ter inligting – Douglas Adams het geskryf: “I love deadlines. I love the whooshing noise they make as they go by.”
Liewe lesers, terwyl ek hier skryf blaas die “whooshing noise” deurlopend in my nek. Lekker lees dus aan die Mogol Pos – dit is harde werk om elke week se nuus betyds, feitelik korrek en taalkorrek by julle te kry (al het ons nie altyd genoeg plek om alles te plaas nie).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.