Redakteursbrief – 1 April 2016

Drinking in public 1

Dit is vir my net ongelooflik dat die hele land kla oor die ekonomie (of die gebrek daaraan), maar kom ‘n lang naweek dan is die hele wêreld op pad na êrens. Gewoonlik met ‘n koelboksie.
Ek ry Dinsdagmiddag huis toe (op die berugte Markenpad) en voor my ry ‘n blou Nissanbakkie. Eers wil ek aapstuipe kry omdat die bestuurder van die voertuig so poer-poer voor my.
Die man kom nie weg nie. Ek ry 40 km per uur. Die volgende oomblik gee hy vet. Eers is die kar amper links af in die gras en net daarna is hy in die baan vir aankomende verkeer. Hy glip soos seep onder my uit en net voor die afdraai na Visgat sien ek hoe swenk hy links en regs en steek ‘n ander voertuig verby. Op die sperstreep, om ‘n draai, reg voor ‘n ry aankomende voertuie.
Die ander voertuie moes van die pad af ry om ‘n botsing te vermy.
En daar sleep hy voort! En ek weet vir ‘n feit – die bestuurder van daardie voertuig het ‘n knertsie gehad voor hy in sy kar geklim het.
Ek praat nou die dag in Pretoria met ‘n man wat vir jare ‘n paramedikus was – hy sê in 90% van alle voertuigongelukke (meesal fataal) is alkohol betrokke.
Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het vroeër in ‘n persverklaring bevestig dat alkohol een van die grootste faktore is wat bydra tot padsterftes. Die goeie nuus is darem dat padsterftes oor Paasnaweek afgeneem het in vergelyking met verlede jaar dieselfde tyd.
Ons fotograaf het sy lyf Loerbroer gehou en sowaar iemand gesien wat langs OR Tambo lê en teug aan ‘n bottel Black Label. Niemand knip ‘n oog nie en selfs die polisie ry by hom verby.
Of ek hoor nou die dag iemand sien ‘n bekende man in verkeerskringe uit sy voertuig klim met ‘n bier in die hand. Wonderlike voorbeeld.
Nietemin, ek hoop almal van julle het ‘n rustige Paasnaweek gehad en heerlik gerus. En as jy een van die gelukkiges is wat weggebreek het – ons is dankbaar jy is veilig terug.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.