Redakteursbrief — 10 Feb 2017

Enige dag wat begin met die nuus dat iemand in ‘n plaasaanval was en meer nog, sy lewe verloor het, is ‘n slegte dag. As dit boonop ‘n Maandag is, is dit ook hoe ‘n week begin.
Dit is hoe ons week begin het. Piet Pieterse, wat ook bekendgestaan het as Piet Vink, is so verniel dat hy Maandagoggend op pad hospitaal toe aan sy beserings beswyk het. Vrydagmiddag kry ek die nuus dat daar ‘n man by Leeupoort vermoor is en Saterdag is ‘n vrou in Naboomspruit (Mookgophong) vermoor.
Dinsdagmiddag14:30 kom ‘n seun in Polokwane van die skool af en die toneel waarop hy afkom is afgryslik. Sy ma is vermoor, haar klere is uitgetrek en behalwe dat sy verskeie meswonde in haar nek en ken het is haar oë met ‘n skerp voorwerp verwyder. Die motief blyk roof te wees..
In Bela-Bela word die burgemeester se voertuig en verskeie geboue aan die brand gesteek. Die pad word noodgedwonge gesluit om die skare onder beheer te probeer bring. Die rede?’n Tariefverhoging.
‘n Woordvoerder van HPG verwoord dit – “dit raak nou rof”.
Waarom so verskriklik wreed?
‘n Lid van Lephalale SAPS het omstreeks 06:45 verby Piet se bakkie gery by die Kuipersbult-kruising en nooit geweet die voertuig word vermis in verband met ‘n plaasaanval nie.
Die verdeeldheid wat in die gemeenskap ontstaan ten opsigte van die noodradiostelsels is kommerwekkend. As die noodradio’s in plek was en die gemeenskap kon saamstaan ter wille van ALMAL se veiligheid, maar veral die mense wat op plase woon, dan kon dié spesifieke voorval dalk anders verloop het.
‘n Verdeelde gemeenskap is ‘n onveilige gemeenskap.
Lees gerus ook ons goeie nuusstorie op die agterblad van Tsheko Alfred Mocheko (amper 67) wat uiteindelik sy matriek voltooi het en dit nou oorweeg om verder te studeer. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Hy is ongetwyfeld ‘n voorbeeld vir talle.
Ten spyte avan slegte dinge wat gebeur is daar net soveel mooi goed wat gebeur. Dinge wat mense se lewens verander. Mense wat ander inspireer en ten spyte van hulle omstandighede uitstyg. En natuurlik die liefde wat alles verdra.
Sê tog vir mekaar en vir jou kind “ek is lief vir jou” – nie net op Valentynsdag nie, maar elke dag. Geniet nietemin die liefde op Dinsdag 14 Februarie. Mens weet mos nou nooit of jy weer die geleentheid gaan kry nie…

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.