Redakteursbrief – 10 Junie 2016

Ek wonder hoeveel van julle onthou die film “Ma skryf matriek”? Dis ligjare gelede en ek kan self nie veel daarvan onthou nie, ek kan net onthou my ma het gedink dit is baie snaaks. Want my broer was toe in matriek. En hy was een van daai wat sy storieboek binne-in die wiskundehandboek geposisioneer het. Om wie te benadeel wonder ek. Hy het ure op die naat van sy rug met die wiskunde-handboek gelê en “leer”.
Nou is my jongste in matriek. Skrikwekkend om daaraan te dink. Alhoewel hy nie op sy rug lê en wiskunde “lees” nie, maak hierdie matriek-ding my half simpel. Ons is nog nie eers by die rekordeksamen nie en my nerwe is aan flarde. En hy is so “chilled” soos kan kom. Want, sê hy, stres is nie goed vir hom nie.
Daarom bring hy sy dae so rustig as moontlik deur…
Dit bring my by my onderhoud met ‘n onderwyser. Een vir wie ek baie respek het. Ek weet presies waarvan sy praat, want ons het ook in ‘n era grootgeword wat onderwysers met groot eerbied behandel is. Ons sou dit nie gewaag het om op te tree soos vandag se kinders nie. Ons het alle ouer mense met respek behandel.
Ek het baie mooi gaan dink. Ek het my kinders geleer dat respek iets is wat verdien word. Dit word nie net verkry omdat jy in ‘n gesagsposisie is nie.
Baie sterkte aan elke onderwyser wat moedeloos raak. Dink net daaraan dat jy moontlik vandag iets gesê het wat ‘n kind se binneste laat blom het. Dit behoort die hele worsteling vir jou die moeite werd te maak.
Sterkte aan almal wat eksamen skryf en veral aan die matrieks en hulle ouers – vir dit wat nog voorlê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.