Redakteursbrief — 10 Maart 2017

Ek het die voorreg gehad om Maandag my oudste seun se gradeplegtigheid by te woon. Wat my veral geraak het is die dekaan van die fakulteit ingenieurswese se toespraak.
Hy het sy hoop uitgespreek dat Suid-Afrika hierdie klomp jong ingenieurs sal raaksien en van hul vaardighede gebruik sal maak.
Ek het gewonder hoeveel van die sowat 300 studente wat hulle ingenieursgrade ontvang het, reeds werk het en hoeveel van hulle gaan groener weivelde soek in ‘n ander land?
Op pad na dié geleentheid kry ek ‘n probleem met my kar. Ek trek van die pad af en maak die enjinkap oop. Asof my enjinkennis enigiets werd is… Half verbouereerd staan ek daar langs die pad – selfoon teen die oor met die oop enjin voor my toe stop Bennie by my.
Die jong man was só gaaf en behulpsaam en wou my nie alleen langs die pad los nie. Toe ek weer die kar aansit, toe is die verdagte liggie wat aangegaan het weg! Maar Bennie het sy nommer vir my gegee en gesê ek kan hom enige tyd bel as daar weer probleme is, hy sal my kom haal. Ek is so spyt ek het nie Bennie se van gevra nie.
Dankie Bennie, jy het my vertroue in die mensdom herstel.
Die aantal malariagevalle wat die afgelope week of twee in Lephalale aangemeld is, het sosiale media aan die gons. Terwyl ek hier skryf is Bielie Aucamp steeds in die hospitaal en sy toestand kritiek.
Ons wens hom ‘n spoedige herstel toe. Tydens my soektog na ‘n kundige uitspraak is almal dit eens dat die baie reën moontlik bygedra het daartoe dat malaria wyer voorkom.
Ons voorbladfoto kan dalk sensitiewe lesers skok, maar dit is die wrede werklikheid van ondergrondse aktiwiteite in ons omgewing.
Die pit bull teef wat met ‘n ketting aan haar nek in die veld gevind is, is ‘n uiterste vorm van wrede mishandeling.
Volgens kenners is dit ‘n tendens om die honde se “uithouvermoë” te toets. Indien die hond nie doodgaan nie, is sy of hy gereed vir hondegevegte. Hoe siek.
Lesers kan wel met reg opgewonde wees oor die splinternuwe Aloe Day Spa in ons midde. Gaan maak gerus ‘n draai, dit is pure bederf!
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.