Redakteursbrief – 11 Maart 2016

Dit wat my die heel meeste ontstel rondom die hele riool-kwessie in Lephalale is dat die rou riool en besmette water na hartelus in die Mogolrivier inloop en niemand doen iets daaraan nie. Erger nog, dit word ontken! Dit moet mos ‘n langtermynuitwerking hê op die inwoners? Ek sou reken die rioolsituasie behoort nommer een prioriteit te wees.
Sommige inwoners is desperaat om ‘n oplossing te kry. Verhuringsmaatskappye wil nie meer na verskonings luister nie. Hulle goeie naam is op die spel. Die inwoners se gesondheid is op die spel. Iemand sê nou die dag vir my ek is darem vreeslik op die munisipaliteit se “case”. Ek was verbaas, want dit is tog een van die doelwitte van ‘n gemeenskapskoerant – om kwessies wat die gemeenskap kwel aan te spreek – ter wille van die gemeenskap. Natuurlik sou ek veel eerder oor positiewe dinge wou verslag doen – maar daar is dinge wat nie reg is nie. Mag ons aanhoudende, knaende navrae op die einde ‘n positiewe nadraai hê.
Die gesprek met Sanitech Lephalale se bestuurder, Johan Snyman, was insiggewend. Ons ontvang gereeld oproepe van mense wat sê daar word riool in mangate in oop areas naby die woongebiede gestort. Johan sê ja, dit is so, maar hulle het toestemming om dit te doen. En die rede waarom hulle dit doen, is omdat die pad na die amptelike stortingsterrein onbegaanbaar is vir hulle voertuig. En wat nou as die mangate waar hulle nou ook riool stort vol raak?
Daar is egter ook positiewe veranderinge – die ekstra stopteken op die hoek van Wells- en Jan Leestraat sowel as dié op die hoek van Fox Odendaal- en Hendrikstaat is baie sinvol. Baie dankie aan die munisipaliteit daarvoor. Ek was die afgelope naweek in Pretoria en het besef ons het baie om voor dankbaar te wees. Daar is net te veel voertuie en ongeduldige en ongeskikte motoriste!
Laastens, ons voorbladstorie het my verstom. Mens wonder wat gebeur in iemand se lewe dat hulle sulke wangedrag toon. Dit bly ‘n onbeantwoorde vraag. En hoe positief mens ookal wil wees, die waarheid kan nie verbloem word deur positiewe denke nie.
“Ek dink, daarom is ek”.
René Descartes het hierdie bekende woorde ‘n paar eeue gelede gespreek en dit is sekerlik een van die meer bekende clichés. Dit kan dalk vandag ook aangepas word na: “As ek dink ek kan iets doen, kan ek dit heelwaarskynlik doen. As ek dink ek kan nie, is ek waarskynlik reg”.
Mag elkeen van julle ‘n wonderlike week hê (hopelik kry ons nog baie reën).
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.