Redakteursbrief — 13 April 2018

En so kom kollega Elsa van Rooyen aan die begin van die week agter dat daar glad nie op die alarm of paniekknoppie by hulle huis gereageer word nie. Ons toets die alarm by die kantoor en helaas, ook geen reaksie – net ʼn doodse stilte.

By navraag hoor ons uit verskeie oorde dat Molalatau Sekuriteit eintlik nie meer regtig bestaan nie en dat die maatskappy aansoek gedoen het vir ʼn likwidasie. Al die kliënte salig onbewus daarvan. En so betaal verskeie mense waarskynlik elke maand getrou hulle fooi vir sekuriteit en beskerming. Lees meer hieroor op hierdie week se voorblad.

Verlede week was daar die soveelste gru-ongeluk op die Markenpad (R518) en steeds skitter die Verkeerspolisie in hulle afwesigheid. Ek was verlede Donderdag skaars op die plaas toe iemand op die noodradio roep en sê daar was ʼn ongeluk. 26 mense agter op ʼn bakkie. Daar is baie bespiegelinge oor die oorsaak van die ongeluk, maar om in die eerste plek soveel mense op een voertuig te laai is onverantwoordelik.

Ek het dit al gesê en ek gaan dit weer sê – spoed, alkohol, onpadwaardige voertuie, roekelose bestuurders, ignoreer sperstrepe. As jy al hierdie dinge bymekaargooi kry jy die R518. Daar is vanjaar al meer as 10 mense dood in ongelukke op die R518. WAAR is die wetstoepassers? Waarom sit hulle dag na dag en week na week by die ingang van die dorp? Hoeveel gru ongelukke het al by die ingang van die dorp gebeur?

Die twee mans wat gevonnis is met lewenslange gevangenisstraf nadat albei van hulle minderjarige meisies verkrag het is verblydend. Verkragting is iets wat heeltemal te ligtelik opgeneem word.

Ons het weer verskeie oproepe en klagtes ontvang oor dienslewering van die Munisipaliteit. Ons volg dit op.

Aan almal wat lus is om iets opbouend te doen – gaan woon gerus die Blommeklub in Lephalale se spesiale dag by Miems Erasmus se huis by en leer terselfdertyd ook meer oor jou figuur (tussen die blomme). Lees meer hieroor op bladsy 12.

Lekker lees!

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.