Redakteursbrief – 13 Mei 2016

Ek was Vrydagaand op pad na ou vriende net buite Potch toe ek die eerste oproep kry. Daar is ‘n erg ontbinde liggaam gevind. Onder ‘n bos op ‘n grondpad. En almal dink dit is Monique (Monica) Barnard se liggaam. Monique is vermis sedert Donderdag 7 April en sedertdien is dit asof sy opgeraap is. Net weg. En die polisie?
Volgens my het almal gedink sy is net ‘n rebelse kind wat weggeloop het om aandag te kry en dat sy weer êrens sal opdaag wanneer sy moeg is vir die speletjie. Omdat sy voorheen weggeloop het. By navraag het die polisie telkens gesê hulle het nog niks gekry nie. Maar het hulle regtig probeer om dié kind op te spoor? Ek het in ‘n vorige voorbladberig geskryf dat mense my genader het met inligting. Dat ‘n vrou, wat dié aand saam met Monique was, my geskakel het met inligting oor die persoon wat die laaste keer saam met haar gesien is. Die polisie was ingelig hieroor, maar niemand het niks gevra nie. Is dit nie waar mens begin nie? By die persoon wat haar laaste lewend gesien het? Ek weet wel dat speurders dit opgevolg het, maar dis moeilik om ‘n saak op te volg as min inligting gedeel word. Intussen gons dit op sosiale media. Almal bespiegel en maak opmerkings. Niemand dink sover dat daar ‘n ma is wat moontlik ‘n kind verloor het nie. Dat sy ook hierdie inskrywings lees. Dat haar hart aan skerwe is. Ek het vir die soveelste keer weer besef dat baie mense hulself net nie kan help nie – hulle blaker alles, meesal onjuis en sonder substansie, op sosiale media uit. Dis om van siek te word!
Verlede week word nagenoeg 24 skole in Limpopo afgebrand blykbaar omdat twee stamme nie tot ‘n vergelyk kan kom nie. Volgens berigte is daar meer as 20 000 leerders wat nou nie ‘n skool in die gebied kan bywoon nie. Nou vra ek jou waarom word die skole afgebrand as dit dan juis opvoedkundige instansies is wat vir die kinders ‘n beter toekoms kan bied. Waarom skole?
Ek is die afgelope naweek met my jongste na ‘n opedag by ‘n universiteit waar sowat 10 000 jongmense die geleentheid bywoon om hulle toekoms te beplan. Die opgewondenheid onder die klomp is die heeltyd tasbaar. Dis kinders wat iets met hulle lewe wil doen.
En ek praat van kinders van alle rasse en klasse. Dit het my sommer weer moed gegee.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.