Redakteursbrief — 14 Julie 2017

Ek wonder elke oggend of die mense wat in die dorp woon al gewoond is aan die rioolreuk wat oor die dorp hang? Ek het bakens langs die pad – as ek verby dié spesifieke plek ry, dan begin ek dit ruik. In die oggend en in die winter. Ek sidder om te dink hoe gaan dit in die aand in die somer ruik.
In die middae as ek plaas toe ry, dan vang die reuk my die oomblik as ek verby die toetsterrein in OR Tamborylaan ry.
Hoe langer mens aan iets blootgestel word hoe meer raak dit vir jou normaal. Dink ek. Vanoggend stap hier ‘n man in wat op die Rietspruitplotte bly. En toevallig het ek vanoggend vroeg op die Werkendampad aangrensend tot die plotte gery. Met my baadjie oor my neus. Die reuk so vroeg in die oggend was te veel op my nugter maag.
Nietemin. Dié man se oupa en pa het op dieselfde grond gebly waar hy nou bly. Vir rondom 30 jaar woon hy op die rivieroewer, maar hy sê die toestand van die Mogolrivier vanjaar is nogal iets anders. Gewoonlik as die water stil was kon jy die visse sien. Nou sien jy net groen. Riool en rioolafsaksel. En die reuk…
Net ‘n rukkie daarna kry ek ‘n besoek van AfriForum se verteenwoordiger in Lephalale. Hy kyk met verstomming na die foto’s wat ek oor jare versamel het van die rioolprobleem in ons dorp. Die tonne e-posse wat ek aan die munisipaliteit gestuur het vir kommentaar. Om ‘n oplossing te probeer kry. Wie by die munisipaliteit gaan verantwoordelikheid aanvaar vir die voortslepende gesondheidsrisiko in ons dorp en die onhigiëniese rioolwater wat oral uitborrel en loop? Om nie eens te praat van die skade wat hulle aan die ekosisteem doen nie. Skade wat nooit weer herstel kan word nie.
En nou het toetse bewys dat ons drinkwater dalk ook nie meer vir lank veilig gaan wees vir menslike gebruik nie. Dit net nadat ons hoor daar het ‘n transformator ontplof by die watersuiweringsaanleg.
Op ‘n ligter noot – baie geluk aan Mej Bosveld 2017, Nerine Schutte van Pretoria, wat Vrydagaand tydens die Bosveldbal gekroon is. Dis tóg jammer dat die titel van Mej Bosveld deur ‘n stadsmeisie gedra word.
Ek hoop almal geniet vanjaar se Bosveldfees, ten spyte daarvan dat die Vuurwerkvertoning Saterdagaand voortgaan. Ons het soveel versoeke ontvang van die publiek om dit te probeer stop, maar volgens lede van die Bosveldfeeskomitee is dit ‘n groot finansiële inspuiting vir die fees.
Geniet ook ons artikel oor Dagga op bladsy 7 wat meer duidelikheid verskaf op die vraag of dagga nog ‘n onwettige dwelm in Suid-Afrika is, al dan nie.
Laastens, dankie aan al die wonderlike mense wat hulle persoonlike tyd opoffer om die DBV te help om diere te steriliseer asook al die ander tye wat hulle bereid is om te help om ons dierevriende se lewens te verbeter. As mense bereid is om soveel vir diere te doen, moet hulle harte van goud hê.
Ons praat weer volgende week.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.