Redakteursbrief — 14 Oktober 2016

Die kwessie rondom die jag van leeus het opnuut opgevlam na die uitspraak by Cites se COP17-beraad dat leeubene voortaan uitgevoer mag word.
Tog sal permitte vir die jag van leeus steeds met omsigtigheid toegeken word. En daar word daagliks meer leeus vergiftig vir hulle liggaamsdele en koppe. In berigte verlede week is aangedui dat die moetiebedryf vir niks skrik nie. Bedreig of nie bedreig nie, groot of klein. Mens kan maar net hoop dat die leeus nie dieselfde pad as die renosters loop nie… Volgens leeuboere is dit baie makliker om ‘n leeu dood te maak as ‘n renoster omdat hulle predatore is en vleis vreet. Vergiftig die vleis en gooi dit in die leeukamp.
Dan wil ek my verstout om aan te sluit by Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, wat sê dit is nie almal wat hoort op universiteit nie. Dit is nie nodig om meer te sê nie.
Volgens Randwater se webblad was die Vaaldam Maandag 10 Oktober net 28.2% vol. Die kans op reënval nul. Ek sien op sosiale media hoe mense foto’s deel van diere wat vrek op plase. Ek hoor van waterbeperkings aan die Rand. En ek besef hoe bevoorreg ons is dat ons blomme in die tuin kan hê en dit laatmiddag kan natspuit uit die boorgat.
Oom Piet du Toit bel die Mogol Pos nou al ‘n geruime tyd om te sê ons moet die gebruik van “’n mengerkraan” aanspreek. Dit is nou die kraan wat een tuit het waardeur die warm en koue water loop. Die meeste van dié soort krane is nie duidelik gemerk nie en mens moet eers die kraan laat loop om vas te stel watter kant is koud en watter kant is warm. Hy sê daar is nie nou water om te mors nie. Mens kan nie water net laat loop nie. Merk die warmkraan met rooi naellak, dan is dit nie weer nodig om die water onnodig te laat loop nie.
Goeie wenk, elke bietjie help!
Oor die laaste twee weke het ure, weke, jare se beplanning die hoogtepunt bereik vir Matrieks reg oor die land. Facebook is steeds oortrek van matriekafskeidfoto’s – beeldskone jong dames en galante here… die kinders het mooier as mooi gelyk en gevoel – en dit het gewys! Mens kan jou amper nie indink dat dieselfde groep oor twee maande hopelik nie te besope en skaamteloos op die strand gaan lê nie!
Nou is die blink rokke weer opgehang, die fyn grimering en liters haarsproei afgewas… en so is dit ook die begin van die einde vir die Matriekklas van 2016. Die eindeksamen is op ons – sterkte met jul laaste voorbereiding. Sterkte ook vir die ma’s, pa’s, boeties, sussies en troeteldiere van die matrieks! Vasbyt.
‘n Voorspoedige week vir almal.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.