Redakteursbrief – 15 April 2016

Dit was ‘n dol naweek en soms voel mens mos net daar is nou te veel dinge wat verkeerd loop. Jy dink jy verdien darem nou so bietjie blaaskans. So sit ek Maandag en wroeg oor alles wat pla en ek tik dat die spoeg spat toe hier ‘n goed versorgde donkerkopvrou by die kantoor instap.
Ek kan in haar oë sien dat haar lewe nie maanskyn en rose is nie. Daar lê ‘n groot hartseer agter die dapper front wat sy voorhou. Ek verstaan onmiddellik waarom. Haar dogter is weg. Of sy nou weggeloop het en of daar ‘n ander verduideliking daarvoor dat sy nie haar foon antwoord of dat niemand weet waar sy is nie, is nie ter sprake nie. Haar kind is weg.
Die verhaal wat Monique se verdwyning voorafgaan is nie ‘n sprokie nie. ‘n Egskeiding, ‘n manipulerende pa. ‘n Stiefpa.
Dwelms en rehabilitasie. Verhoudings wat skeefgeloop het. Dis nie nodig om nog uit te brei nie. Deur dit alles het haar ma haar in haar hart gehou. Tot Donderdag toe sy nie haar kind in die hande kon kry nie.
Dis nou baie maklik om te kritiseer. Dis altyd maklik om ander te kritiseer. Totdat jy self aan die ander kant staan. Al wat ek dink terwyl ek hierdie stukkende vrou voor my sien sit, is dat dit enigeen van ons se storie kon wees. Ons almal het bagasie en min ouers sal doelbewus besluite neem wat hulle kinders sal benadeel.
My wens is regtig dat Monique gevind sal word en met haar ma sal versoen.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.