Redakteursbrief — 15 September 2017

Shorty Pontes se onlangse dood laat ʼn groot leemte in die gemeenskap van Lephalale. Hy was ʼn legende en sy invloed en bydrae in die dorp sal baie lank onthou word. Mag sy familie vrede kry in die wete dat sy teenwoordigheid of invloed nooit ongesiens was nie.
Die een ding wat die meeste mense wat binne die grense van ʼn “normale” samelewing leef sekerlik nooit sal verstaan nie is hoe op aarde iemand kinders kan verkrag. En tog is dit deel van die lewe en iets wat toenemend voorkom. Ook in ons omgewing.
ʼn Ingeligte bron het ʼn tyd gelede vir my gesê die gemiddelde mens het nie ʼn idee wat regtig in die dorp aangaan rakende kindermolestering en –verkragting nie. Een van die oorsake kan moontlik wees omdat daar toenemend werklose mense in die dorp is. Daar is tans heelwat kontrakteurskontrakte by Medupi wat verstryk het. Daardie mense is dus nou sonder werk, maar van hulle bly nog hier. Volgens my bron is dit ʼn deel van die probleem.
Wat ontstellend is, is die voorval van ʼn 13-jarige dogter se maats wat haar met ʼn rubbervoorwerp verkrag het. Hulle het die ding blykbaar self gemaak. Die hele insident is dus fyn beplan. Die vraag is – wat moet in ʼn kind se lewe gebeur voordat hy/sy tot so afskuwelike daad in staat is?
Verlede week se voorblad met foto’s van die toestand van die dorp het baie reaksie veroorsaak, met die minste reaksie van die munisipaliteit. Ten spyte van navrae oor hulle aksieplan het ons teen druktyd geen terugvoer gekry nie. Lees volgende week meer hieroor. Die kwessie rondom die algehele verval van alle dienste in die dorp is al so afgesaag, maar ons kan dit nie net ignoreer nie. As mondstuk van die gemeenskap sal ons grou en vrae vra totdat daar reaksie is.
Intussen is dit ook elkeen van ons se verantwoordelikheid om soos ʼn behoorlik opgevoede mens skoon te maak en op te ruim. Dit is belaglik hoeveel mense net ʼn veer voel!
Laastens, baie dankie aan die borge wat verseker het dat Laerskool Ellisras se Kunstefees in vier volkleurblaaie in Mogol Pos pryk!
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.