Redakteursbrief — 16 Desember 2016

En so kom ons aan die einde van nog ‘n jaar. En wat ‘n jaar!
Ons het ‘n verkiesing oorleef, ons president is steeds aan bewind, sommige universiteite het, ten spyte van al die oproer, uitgestelde eksamens, ontwrigte klasse en vele meer in elk geval hulle fooie vir volgende jaar verhoog. Ter wille van voortgesette kwaliteit-onderrig. Dit sal egter eers volgende jaar duidelik word wat die gevolge hiervan gaan wees.
Met die veelbesproke matriekvakansie agter die rug (vir die meeste in elk geval) het vanjaar se Plett-matrieks teruggekom met ‘n tipe verslaentheid aan hulle. My Matriek se woorde was dat dit lekker was maar nooit weer nie! Die opspraakwekkende video van een van die dogters wat saam Plett toe was het mens met ‘n wrang smaak in die mond gelaat. Een van haar maats kon dit nie gou genoeg deel op Facebook nie…
As mens egter die situasie in perspektief sien is daar net jammerte in my hart vir haar. Ek’s jammer vir haar dat wat veronderstel was om ‘n heerlike sorgelose vakansie te wees, uitgedraai het op ‘n voorval wat haar toekoms beïnvloed. Ek hoop dit is ‘n groot “wake-up call” vir almal wat dink ouers is te paranoïes, te bekommerd en te beskermend wanneer die groot vakansie aanbreek. Dit is ‘n les dat daar altyd mense gaan wees wat ‘n situasie gaan uitbuit. Dat daar wel so iets bestaan soos ‘n drankie wat gedokter word. Dat almal nie goeie bedoelings het nie. Dat mens jou vriende moet oppas en na mekaar moet kyk. Die wêreld is NIE ‘n gawe plek nie. Hulle moet egter ook weet dat mens altyd ‘n keuse het.
Ons is dankbaar sy is veilig terug in die Bosveld en hoop dat die polisie die saak sal uitsorteer.
Dan oom Pieter. Oom Pieter wat altyd ‘n grappie in sy mou gereed gehad het. Wat elke landelike veiligheidsforumvergadering “ontwrig” het met sy kwinkslae. Altyd ‘n sjokoladetjie in sy sak vir sy “meisie”. Hy het die Bosveld en sy mense en die lewe liefgehad. Mens noem iemand dalk te maklik ‘n legende, maar oom Piet was ‘n legende wat lank in almal wat hom geken het se harte sal bly voortleef. Ek sal altyd aan hom terugdink en wil glimlag.
Geniet die laaste Mogol Pos vir 2016. Ons kantore sluit Woensdag 14 Desember en heropen Vrydag 6 Januarie. Baie dankie aan elke leser, adverteerder, vriend of vriendin wat ons so getrou ondersteun. Mag elkeen van julle ‘n vreugdevolle en vredevolle Kerstyd saam met geliefdes hê en met nuwe krag en inspirasie die nuwe jaar betree.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.