Redakteursbrief — 18 Augustus 2017

Ek kon nie help om verbaas te wees nie. Met die proeflees van hierdie uitgawe lees ek ‘n Publieke Kennisgewing vanaf ons Munisipaliteit raak rondom die verwydering van tuinafval. Die spesifieke munisipale regulasie (bylaw) word aangehaal. Inwoners mag net twee sakke tuinafval uitsit vir die munisipaliteit om op te laai. Ensovoorts.
Die prosedure wat hulle volg is heeltemal korrek. Wat my verbaas is die feit dat hulle dié munisipale regulasie in ‘n kennisgewing in ‘n koerant kan laat publiseer, maar wat van al die ander munisipale regulasies wat gruwelik oortree word en niemand knip ‘n oog nie?
As dit gaan oor rusverstoring, riool wat die hele omgewing oorgeneem het, advertensies van aborsies of penisvergrotings oral opgeplak teen elke objek wat langer as een minuut stilstaan, mense wat na hartelus in die pad, langs die pad, teen die hoek van ‘n gebou staan en urineer. Papiere en ander vullis waai die hele dorp vol. Mense laai hulle vuilgoedsakke in die rivierloop af. Of nog beter, hulle gooi dit sommer af langs die pad.
Kuierplekke bly dwarsdeur die nag oop vir kuier en drink en dobbel. Verkeersreëls word geïgnoreer. Word die regulasies rondom bouwerk nagekom?
Wat daarvan? Waar is die regulasies dan? Munisipale regulasies is veronderstel om die nasionale landswette te “versterk” of te ondersteun.
Volgens Lephalale Muni-sipaliteit se webblad, bestaan daar munisipale regulasies in terme van ruimtelike beplanning en grondgebruikbestuur, kliënte-diens- en inkomstebestuur, watervoorsiening en sanitasiedienste, inbreuk op munisipale eiendom, heinings en omheinings, die verhuring van munisipale lokale, die skut van diere, beveiliging van swembaddens, sportgeriewe, stormwaterbestuur, straathandel en afvalbestuur. Ensovoorts.
Dis so jammer dat hierdie eens pragtige Bosvelddorp nou oorskadu word deur slegte dinge.
Daar is egter altyd goeie nuus ook. Lees gerus ons voorbladartikel oor hoe Lizelle Lamprecht se helikopter aan ‘n kragdraad geraak en die helikopter neergestort het. Hulle het wonderbaarlik lewend daaruit gekom.
Dit is die einste Lizelle wat verlede jaar vir Andrew Schoeman Mediclinic Lephalale toe gevlieg het nadat hy deur ‘n swart mamba gebyt is.
Groot genade vir hulle albei.
Tot volgende week.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.