Redakteursbrief – 18 Maart 2016

Toe ek Maandagoggend by die grutoneel staan waar twee mans, in die fleur van hulle lewe, gesterf het, besef ek vir die soveelste keer dat ‘n mens se lewe kortstondig is. Mens kan beplan en bekommer, as jou tyd gekom het om te sterf, is al daardie ure se bekommer en beplan tot niet. Om by ‘n toneel te staan waar mense gesterf het laat jou ook besef hoe min die menslike liggaam eintlik beteken.
Daar waar iemand gesterf het staan daar fotograwe en ander nuuskieriges rond. Hier lê ‘n skoen en ‘n goeie sewe meter verder lê die skoen se maat. Hulle sou net ‘n vinnige draai gaan vlieg…
Namens die Mogol Pos-personeel – innige meegevoel en meelewing aan Delon en Ernst se families en vriende.
Met die goeie nuus dat Schalk Erasmus verkies is tot kaptein van Affies se eerste rugbyspan, gaan my gedagtes darem baie ver terug. Terug na die ernstige laerskoolseuntjie wat so dikwels by ons jongste gekuier het. Toé reeds het hy vir my gesê hy gaan eendag vir die Springbokke rugby speel. Nou lyk daardie droom glad nie vergesog nie.
Met ons jongste telg se 18de verjaarsdag verlede jaar laat weet Schalk hy kom kuier. Die vreugde toe dié twee, wie se wêrelde hemelsbreed verskil, mekaar omhels en druk, sal my altyd bybly. Toe ons hom vra of hy dink hy staan ‘n kans om die kaptein van die
Wit Bulle te word, sê hy “daar is baie sterk ouens in die span oom, maar dit sal vir my ‘n groot eer wees”. En daar hét die eer hom te beurt geval. Vir ons gesin sal hy altyd die seuntjie met die groot hart en die diep stem wees. Rasend opgewonde omdat ons “steak” en tamaties braai.
Toe ons jongste moes terugkom na Hoërskool Ellisras verlede jaar was dit Schalk wat my bel en sê “tannie moenie so huil nie, die Here het ‘n doel met alles”. Mag die toekoms vir hierdie jong man net die beste inhou. Vir ons sal jy altyd net Schalla bly.
Net voor hierdie bladsy drukkers toe gaan kry ek die tyding dat daar absolute chaos heers in Mookgophong en Mokopane. Die wêreld brand, vullis lê oral rond, paaie word versper, buitebande en huise brand en word geplunder. Asof dit nou ‘n oplossing vir enigiets is. Is dit ‘n geval van almal kry hulle sin solank hulle net ver genoeg gaan?
Ek lees in Sondag se Rapport dat prof. Theuns Eloff in sy nuwe boek, Wat nou, Suid-Afrika, sê dat Suid-Afrika nie ‘n mislukte staat is nie, maar die een area waar SA wel gefaal het, is onderwys. Behalwe vir die feit dat kinders se punte aangepas word – daar word weggeneem by dié wat goed presteer en bygevoeg by dié wat druip – sekerlik ook om die slaagsyfer beter te laat lyk – laat dit mens met ‘n wrang smaak in die mond. Wat moet word van die kinders wat eintlik op grond van die aanpassing van punte geslaag het. Wat na regte ‘n jaar moet herhaal. Watter toekoms lê daar vir hulle voor? Is dit vir die kind se beswil of vir die skool en die ouers s’n?
Ek wonder maar net.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.