Redakteursbrief — 18 November 2016

Ek kry nou die dag ‘n WhatsApp boodskap met ‘n foto van ‘n voertuig wat in ‘n rivier van water dryf na die vloede aan die Rand – net die dak steek uit. Onderaan staan: “vir diegene wat steeds bid vir reën – hou asseblief op”.
Ek weet dis net ‘n grap en die aweregse humor het my lekker laat giggel maar met gemengde gevoelens. Ek weet die droogte is niks om oor te lag nie, maar die boodskap het my net weer laat besef dat ons Suid-Afrikaners graag die humor in slegte situasies raaksien. As daar ‘n ramp is, is daar ‘n grap. Dink maar net byvoorbeeld aan arme Margaret van Wyk se ramp en die grappe daarna…
Dis elke week vir my nogal ‘n moeilike besluit oor watter artikel op die voorblad geplaas moet word. En ongelukkig is dit so dat die gemiddelde mens van slegte nuus hou. Mense is nuuskierig.
Daar het egter die afgelope naweek twee sulke positiewe dinge gebeur dat dit eenvoudig moét plek kry op ons voor- en agterblad. Saterdag se DBV-uitreik in Shongoane het my regtig laat stilstaan en staar. Ek was verwonderd oor die goedheid van mense. Oor die omgee vir diere. Niks was vir die vrywilligers te veel moeite nie en die veeartse het letterlik sonder ‘n oomblik se blaaskans op hulle voete gestaan en honde gesteriliseer. 59 honde mag klink na ‘n druppel in die emmer, maar dit is ‘n stap in ‘n positiewe, opvoedkundige rigting. Ek staan en luister hoe een van die DBV-vrywilligers vir ‘n seun verduidelik waarom dit belangrik is om sy hond te steriliseer. Hy wou eers nie sluk aan die gedagte nie, maar toe hy verstaan waaroor dit gaan, toe stem hy in. Daardie kind gaan dit nie vergeet nie.
En die donkies! Die donkie is sowaar ‘n wonderlike ding. Van hulle was so maer en seer, maar hulle gee nie op nie. Die mense wat die waentjies reggemaak het, het sonder ophou gesweis, geverf, nommerplate opgesit en stukkende sitplekke vervang. Net omdat hulle omgee. Dit was ‘n dag en ervaring wat my ewig sal bybly.
Dan is daar natuurlik die wonderlike storie van die twee senior burgers, Letta Matjila (69) en Samuel Mokobi (75) wat mekaar by die SAVF in Marapong ontmoet en verlief geraak het. Op hulle gevorderde ouderdom. Hulle is Sondag albei vir die eerste keer getroud. Dit is so ‘n mooi storie met ‘n goeie einde. En weereens ‘n bewys dat daar baie goeie mense is wat onder die radar baie omgee en doen vir ander. Dié tweetjies is omtrent bederf deur mense en instansies vanuit die gemeenskap.
Lephalale se mense bewys telkens dat hulle omgee-harte het. Dankie aan almal wat ongesiens groot bydraes lewer en ander mense se lewens verryk.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.