Redakteursbrief — 19 Augustus 2016

Die inwoners van Onverwacht was die afgelope week baie ontstig oor die Jazz-fees wat die naweek by die Mogolklub se sportgronde aangebied is. Sosiale media-platforms het gegons met inskrywings van inwoners wat Saterdagnag niks geslaap het as gevolg van die oorverdowende musiek. Sommige inwoners sê hulle ruite het saam met die ritme van die musiek geratel. Dié wat die fees bygewoon het, kan egter nie uitgepraat raak oor die wonderlike geleentheid wat Lephalale getref het nie en hulle vra na meer.
Die vraag wat almal vra is of die organiseerders toestemming gehad het om deurnag musiek te maak en indien wel, wie op aarde keur so ‘n lawaai dwarsdeur die nag goed?
Sover ons kon vasstel was al die nodige goedkeurings in plek. Die bure is net nie persoonlik daaroor ingelig nie. Die advertensies van die Jazz-fees het duidelik aangedui dat die fees vanaf 12:00 Saterdag tot 06:00 Sondagoggend sal duur.
Mense van so ver as Gauteng, Botswana, Polokwane, Nelspruit en Oos-Londen het kom deel in dié fees van musiek.
Mogol Pos het die kwessie bespreek met Lalane Mojela, organiseerder, en hy sê hy is bewus van die klagtes. Hy sê hierdie fees was ‘n eerste van sy soort in Lephalale en hulle het baie daaruit geleer.
Hulle sal dit definitief volgende jaar anders doen. Hulle beplan ook om volgende jaar verskeie kuns-genres op verskillende plekke aan te bied om bietjie meer kultuur na Lephalale te bring en hulle hoop van harte dat die aanbiedings en bywoning multikultureel ondersteun sal word. Ek dink dit is ‘n uitstekende gedagte. Sal dit nie wonderlik wees as ons aan meer kunsvorme blootgestel word nie?
Daar is immers ‘n baie groot leemte in Lephalale wat kultuuroptredes en gesonde ontspanning aanbetref.
Gepraat van gesonde ontspanning – die Exxaro/Mogol Marathon wat Saterdag gehou is, was ‘n groot sukses. Mogol Pos het weer ‘n waterpunt beman en dit is ‘n groot aansporing om te sien hoeveel mense selfs die 42 km aandurf. Twee van ons personeellede, Tommy (21 km) en Petro (10 km), het vanjaar deelgeneem. Ons is baie trots op hulle.
Miskien STAP die res van ons dalk volgende jaar saam…
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.