Redakteursbrief – 19 Feb 2016

Die Mogol Pos is vandag, hier waar ek sit en skryf op 16 Februarie, ‘n volle 20 jaar oud. ‘n Mylpaal. Ek werk nou weliswaar nog nie 20 jaar by die Mogol Pos nie, maar ek is breëskouer oor die feit dat ek deel kan wees van die span wat die Mogol Pos steeds na 20 jaar weekliks op die rakke bring. Ek is breëskouertrots om te kan sê dat geen publikasie vir 20 jaar sal kan voortbestaan as dit nie die moeite werd is nie, as daar nie lojale adverteerders en lesers is wat die pad saam stap nie.
Ek onthou die dag soos gister toe ek vir die eerste keer by die Mogol Pos se deure (toe nog in die kantoor in Hendrikstraat) ingestap het. Ek het dit aan Nicoleen Gouws te danke dat sy my nie eintlik ‘n keuse gegee het nie. “Vandag ry ek saam met jou na die Mogol Pos. Jy gaan vandag vir hulle vra of hulle nie vir jou werk het nie” het sy voet-by-stuk gehou. En daar staan ek. Min het ek geweet.
Ek het gedink ek gaan so bietjie vryskutwerk doen en die koerant proeflees. Vyf jaar en baie trane, bloed, ‘n gekners van tande, laat aande, kameraderie, vrees, dankbaarheid en blydskap later kan ek amptelik sê dat ek trots-Mogol Pos is. Dat mens nie moet dink jy het ‘n graad in joernalistiek agter jou naam en jy is volleerd nie. Dankie aan die volbloed-koerantman, oom Dries, vir al jou terloopse insette (en lesse)! En dankie aan ieder en elk by wie ek geleer het wat gemeenskapsjoernalistiek beteken.
Ek het geleer dat ‘n gemeenskapskoerant jou lewe oorneem. Jy drink, eet, slaap en leef die koerant. En nes mens dink jy het gearriveer, dan leer die lesers jou jy moet maar op jou tone bly!
Baie dankie aan al my voorgangers. Aan Dries van Rooyen wat die visie gehad het om hierdie koerant-met-integriteit te begin en Elsa wat dit voortsit. Dankie vir die geleentheid wat ek steeds het om redakteur te wees van hierdie besondere koerant. Dis ‘n voorreg.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.