Redakteursbrief — 19 Januarie 2018

En so kom alle goeie dinge tot ʼn einde. Die (lang) skoolvakansie is uiteindelik verby en alles keer stadig maar seker terug na normaal. Ek kon nie help om ʼn gesprek te hoor tussen twee ma’s wat hulle onverbloemde vreugde deel omdat die skole weer begin nie! Jip, om voltyds ouer te wees is nie maklik nie.
Saam met ouerskap en kinders wat die nes verlaat kom daar ongelukkig ook nuwe verantwoordelikhede en allerlei vreeslike dinge wat met jou kind kan gebeur.
Die tema “boeliery” het die afgelope tyd baie aandag getrek nadat die 13-jarige seun van Noorderlig Gekombineerde Skool in Benoni dood is nadat hy deel was van boeliery in die skool.
Met die skole wat heropen en kinders wat vir die eerste keer skool toe gaan of hoërskool toe gaan, kan die realiteit van boeliery nie geïgnoreer word nie.
Na my gesprek met ʼn bedryfsielkundige in die dorp, het ek weer eens besef dit is nie meer kinderspeletjies om kinders op skool te hê en om hulle heel ander kant uit te kry nie. Ongelukkig word boeliery nie net tot skole en skoolkinders beperk nie. Boelies is ʼn spesie wat wyd voorkom. Die boodskap aan ouers is duidelik – wees in voeling met jou kind se gevoelens en hou die kommunikasiekanale wyd oop!
Lees gerus ons berig oor boeliery op bladsy 6 in hierdie uitgawe.
Die goeie nuus dat dr Mariëtte Emslie weer by haar praktyk werksaam is en in die dorp bly, het haar pasiënte en almal wat vir haar omgee met groot dankbaarheid gevul. Dankie Mariëtte dat jy tyd vir my afgestaan het en jou hart met my gedeel het. Dankie veral dat jy weet ek doen nie hierdie omdat ek sensasie soek nie.
Die tragiese voorvalle waarin ʼn lid van Lephalale SAPS se klein kindjie per abuis doodgery is sowel as die 25-jarige Sebastian se tragiese dood, laat mens weer besef dat die lewe te kort is om jou op te hou met onbenullighede. Om ʼn kind te verloor is sekerlik dié swaarste ding. Mogol Pos se innige meegevoel met die familie en geliefdes van hierdie twee kinders.
Ek luister Woensdagoggend na ouers se ervaring van hulle kinders se eerste skooldag – die een vertel haar dogtertjie was reeds 05:00 op en aangetrek en reg vir die groot avontuur van skoolgaan wat op haar wag. Helaas, toe sy die middag by die huis kom hang haar hele gesiggie. Sy was ʼn hele dag by die skool en kan steeds nie lees nie!
Nou ja, mag daar aan almal se verwagtinge vir die nuwe skooljaar voldoen word!
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.