Redakteursbrief — 20 Jan 2017

Om koebaai te sê is nooit lekker nie, veral nie as dit jou laaste kuiken is nie. En die feit dat jou laaste kuiken die huis verlaat om met die res van sy lewe te begin, beteken ongelukkig ook dat ons ouer word…
Op die oomblik is die huis stil en ons twee sit met groot oë vir mekaar en kyk. Geen musiek wat vanuit die kamer se rigting hoorbaar is nie, geen bulderende TV (ek het tot die gevolgtrekking gekom dat vandag se jongmense se gehoor definitief swakker is as wat ons s’n was), die badkamervloer is netjies. Geen klere op die vloer of skoene op die tafel nie.
En ons MIS dit. Veral die ontelbare vrae oor die lewe en sy dinge wat ek daagliks op pad huis toe moes antwoord en beredeneer. Die deel van my hart wat nog reëlmatig klop weet ook hy is só gelukkig en hy was reg vir hierdie nuwe fase in sy lewe. Sterkte ook aan almal wat vanjaar moes koebaai sê met die wete dat jy nie weer gaan boeke oortrek of skoolkosblikke pak nie.
Ek is doodseker mens mag ook met verwagting uitsien na die nuwe era sonder kinders in die huis. Daar IS mos ‘n tyd vir alles.
Soos gewoonlik, elke jaar nadat die nuwe skooljaar begin het, is Mogol Pos die volgende week propvol skolenuus. Nuwe kinders, nuwe onnies, presteerders, ens. Ek hoop al die trotse ouers geniet dié uitgawe – dis mos lekker om vir die familie te wys dat jou kind in die koerant is!
Goeie nuus is dat Andrew Schoeman, ons voorbladman van verlede week se uitgawe, (voorbladartikel “Mamba-skrik”) Woensdag ontslaan sou word na meer as twee weke in die hospitaal. Ek het via WhatsApp met hom gesels en weer eens besef dat mens elke dag moet leef asof dit jou laaste is. Daar is altyd mense of ervarings waarmee ek te doen kry wat my meer raak as die alledaagse nuusgebeure. Andrew se traumatiese ervaring is een daarvan. Ons is dankbaar hy kan huis toe gaan.
Lekker week vir almal, die eerste maand van die nuwe jaar is sowaar al meer as halfpad verby, so doen wat jy wil doen en moenie uitstel nie!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.