Redakteursbrief – 20 Mei 2016

‘n Persoon skakel my gister. Ek kom agter die ou klink so bietjie geheimsinnig. Hy vertel vir my ‘n lang storie van hoe ek die een of ander saak moet ondersoek. Nou kyk, ek is gewoond aan hierdie tipe oproepe, maar dié een is so effe anders. Hierdie man gebruik terme wat ek nie ken nie. Ek vra hom naderhand of hy seker is hy praat met die regte persoon waarop hy antwoord “aren’t you the investigating officer at Mogol Post”?
Nou ja toe. Soms voel ek soos ‘n speurder. Maar dit het my nogal laat dink. Ek wonder of lesers besef hoeveel werk daar is voordat die eindproduk eindelik op die rakke is? Veral misdaadberigte. Soms werk ek amper ‘n hele week aan een berig. Want dit neem baie tyd om al die feite en verwysings bymekaar te kry sodat die saak nie benadeel word nie, maar sodat ons soveel moontlik inligting bymekaar kan kry om dit die moeite werd te maak om te lees. Die ergste van alles is, ‘n verslaggewer is eintlik altyd in die pad! So ons moet onder die radar snuffel en inligting kry. Baie dankie dus aan almal wat my help en goedgesind is. Dis REGTIG soms amper speurwerk.
Ek was al amper met die koerant in my hand op pad drukkers toe, toe sien ek hoe jaag Armand van ER24 met ‘n spoed verby my. Op pad terug vanwaar ek vandaan kom.
Ek draai net daar om en jaag agter al die noodvoertuie aan. En daar sien ek die bus wat van agter af in ‘n bakkie met ‘n sleepwa vasgejaag het. My eerste indrukke was dat daar nie iemand lewend uit die wrak kan kom nie. Ek vra versigtig rond waar is die bestuurder van die bakkie… en daar staan hy, verband om die kop, springlewendig. Dis tye soos dié dat mens besef daar is ‘n tyd in elke mens se lewe wat jy die tydelike met die ewige gaan verwissel. Dit was nie sy tyd nie. Sy dogter sê vir my op die toneel dat hy net ‘n uur gelede nog gewik en –weeg het of hy die sleepwa moet saamneem. As die sleepwa nie daar was nie, was die bus se volle impak op sy bakkie. Dan was die situasie heel waarskynlik heeltemal anders.
Dit was nie sy tyd nie en ek kon dié keer met vreugde in my hart terugry kantoor toe.
Geseënde week vir almal!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.