Redakteursbrief — 21 April 2017

Met die Paasnaweek agter die rug en die skole weer aan die gang, is alles weer terug na normaal.
Volgens verkeersowerhede was dit weer eens ‘n swart Paasfees op Suid-Afrikaanse paaie. Teen druktyd was die finale padsterftestatistieke nog nie bekend nie, maar dit is duidelik dat spoed veral vanjaar tot noodlottige botsings gelei het. Motoriste wat bestuur sonder wettige bestuurslisensies was ook algemeen.
Die padverkeerbestuurskorporasie (RTMC)
het aangedui dat daar byna 20 000 verkeersboetes uitgereik is vir verskeie oortredings waaronder bestuur onder die invloed van alkohol.
RTMC het die verkeerstatistieke as “skokkend” beskryf.
Ek en my ander helfte was ook deel van die Paasverkeer. Ons is Mmbombela (Nelspruit) toe vir familieverpligtinge. Saterdagoggend het die pad soos ‘n droom gery. Maandag was ‘n ander saak. Die volume van verkeer was nie die enigste probleem nie, die probleem was die ongeduldigheid en onverskilligheid van motoriste. Ons was stomgeslaan oor die hoeveelheid motoriste wat ander voertuie verbysteek op sperstrepe, verbysteek op ‘n blinde hoogte, verbysteek wanneer die aankomende verkeer al gevaarlik naby is. Min motoriste bly by die wettige volgafstand. ‘n Paar voertuie was ooglopend onpadwaardig, die bande is glad, die bestuurder sit die heeltyd met ‘n selfoon teen die oor. Ek kan aanhou, maar ek dink die prentjie is duidelik. Dit het my net weer laat besef, die probleem lê by die MENSE wat nie by die reëls hou nie. Die reëls is daar, die verkeersowerhede moes bontstaan om oral te wees en orde te handhaaf en hulle kan nie oral wees nie.
Ek het nog ‘n probleem met mense wat die afgelope naweek my bloeddruk tot in die rooi laat styg het. Weer eens sosiale media. By plasings oor Scott van Zyl en die vordering van die ondersoek is daar sowaar mense wat op MEDIAplatforms hulle monde uitspoel omdat daar krokodille (wettig) geskiet is as deel van die ondersoek. Wat as dit jou familie was? Wat as jou man net wegraak? Sal die skiet van ‘n paar krokodille jou dan ook ontstel of sal jy dankbaar wees dat daar mense is wat alles probeer om jou geliefde te probeer opspoor? Mense se optredes is soms verbysterend.
Kristian Prinsloo se toestand was teen druktyd steeds onveranderd en die familie wagtend op ‘n wonderwerk. Mogol Pos wens almal betrokke by die twee tragiese voorvalle baie sterkte toe.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.