Redakteursbrief – 22 April 2016

Eerstens is my hart vol dankbaarheid teenoor (Victor) nakampe monyepao van Lephalale Munisipaliteit omdat hy die dwelmprobleem in ons mooi dorp aanspreek.
Ek dink nie ons besef watter geweldige probleem dit is nie. Ons hoor baie gerugte, stories. Ons sien gereeld hoe iemand gearresteer word vir die besit van byvoorbeeld dagga. Dis egter net ‘n druppel in die emmer van wat werklik in ons strate en huise aangaan.
Mense beskou dagga lankal nie meer as ‘n ernstige dwelm nie. Tog het studies bewys dat dit jou brein verander, jou korttermyngeheue verwoes.
Dit is die een dwelm wat vir jou die pad oopmaak na erger, sterker, meer gevaarlike harde dwelms.
Ek het ‘n ruk gelede met ‘n speurder gepraat oor die gerugte dat een van die groot dwelmafsetpunte reg onder hulle neuse in Onverwacht is. Hulle weet dit, maar kan nie die handelaars vastrek nie.
Hulle ken al die “tricks” in die boek. En dis ons kinders wat daaronder ly. Daar was hierdie week twee gerugte van kinders wat by ‘n skool opgelaai word en gebruik word vir seksuele gunsies. Die een kind sê hy is met iets ingespuit. Sulke tipe nuus was altyd ver van ons veilige Bosvelddorp af. Maar dis hier. Dis om ons. Dis realiteit.
Die geleentheid by Mabalane Seleka Technical School in Onverwacht waar skoolhoofde “partners” kry uit die besigheidswêreld, was so spesiaal, veral as mens dink waaraan ons kinders daagliks blootgestel word. Die skoolhoofde was so begeesterd en positief oor die geleenthede wat hulle het om kinders op te voed en op te hef. ‘n Lekker positiewe projek.
Ons voorbladartikel is spesifiek geskryf met die doel om mense te laat wakker skrik.
As jy inligting het wat iemand moontlik kan help met ‘n ondersoek om iemand se kind op te spoor, waarom kom jy nie daarmee na vore nie? Omdat jy bang is vir jou goeie waat naam? Jy hoef mos nie jou identiteit bekend te maak nie, deel net die inligting.
Ek was regtig geskok hierdie week oor die hoeveelheid bespiegelinge en stories wat in die dorp rondgaan oor Monique Barnard.
Intussen is die polisie nie bewus van een hiervan nie. Asseblief, die kind het ‘n ma en ‘n pa. Hulle is bekommerd oor haar. Skakel asseblief die nommer wat verskaf is en práát as jy iets weet.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.