Redakteursbrief — 22 July 2016

Ek weet ek het dit al gesê, maar dit bly vir my iets wat bots met dit wat my werk as verslaggewer van my vereis. As ek na iemand toe moet gaan wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het.
Ek onthou toe ek as finalejaarstudent by die dagblad Beeld gewerk het onder Ian Theron as nuusredakteur. Dit was bitter opwindend en ek het die voorreg gehad om vir ‘n rukkie ‘n kantoor te deel met die bekende joernalis Murray La Vita. Hy het Gauloises sigarette ge-kettingrook en aanhoudend gepraat oor al die grusame misdaadtonele wat hy al gesien het. Daai tyd kon mens nog laat waai met sigarette net waar jy smaak. Selfs in ‘n bedompige dagbladkantoor. Ek moet bieg, daar was eintlik nie ‘n joernalis wat nie gerook het nie, so dit het niemand gepla nie. Ek het grootoog geluister na al sy stories van bloed en hare. Ek was absoluut meegesleur en het daar en dan besluit ek gaan ‘n misdaadverslaggewer word. Tot die nuusredakteur een Sondag (ja, joernaliste van dagblaaie werk op Sondae) gesê het ek moet ‘n pa bel wie se seun homself die vorige nag geskiet het. Net daar het ek hakke ingedruk.
Student of nie, ek gaan nie ‘n pa bel wie se seun dood is en uitvis wat gebeur het nie. Ek was nog jonk en onverskrokke…
Later was ek in korporatiewe joernalistiek waar ek nie nodig gehad het om derms uit te ryg nie. Min het ek geweet dat ek eendag in die platteland sal beland waar die wêreld kleiner is en die ellende daarom soveel meer persoonlik. Daarom sê ek vir Ruth dankie. Dankie dat sy my nie soos ‘n wurm laat voel het toe ek haar bel na Jacques se dood nie.
Want ek is ook ‘n ma. Ek het ook seuns. Namens die Mogol Pos, baie sterkte aan die Louw-gesin en ook die gesin wat op ‘n ander manier deel is van hierdie tragiese sameloop van omstandighede. ‘n Fratsongeluk.
Die kwessie rondom verdagtes wat maand na maand in die hof verskyn net om ‘n skulderkenningsboete te betaal en môre weer dieselfde misdaad te pleeg moet dalk opnuut onder die soeklig geplaas word. Daar was hierdie week twee gevalle van verdagtes wat gearresteer is wat reeds voorheen vir dieselfde misdaad gearresteer is. Wanneer is genoeg genoeg?
Die wildsdiefstalvoorval op Neels Alant se plaas waar stropers die Saterdag gearresteer is en die Maandag uit is op borg laat mens wonder wat die uiteinde van die saak gaan wees. Gaan hulle na ‘n paar verskynings in die hof eenvoudig skulderkenning betaal en hulle volgende slagoffer teiken of sal hulle ‘n sinvolle straf kry aangesien van hulle reeds voorheen gearresteer is vir wilddiefstal?
Tot volgende week!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.